HESSEQUA NUUS - Die Hessequa Raad het ‘n beleid aanvaar waarvolgens grondeienaars in die landelike area ‘n tarief gehef sal word vanaf 1 Julie 2018 vir ‘n vullis-verwyderingsdiens.
Kragtens die Hessequa Munisipaliteit se Verordeninge insake die Wegdoening van Vaste Afval, mag niemand, behalwe die munisipaliteit of ‘n persoon gemagtig deur die munisipaliteit, vullis van enige perseel verwyder of daarvan wegdoen as dit nie aan die wetgewing voldoen nie.
Die volgende Artikels soos vervat in die gemelde verordening (Provinsiale Koerant 6588) word hieronder uiteengesit vir maklike verwysing:
5. VERPLIGTE GEBRUIK VAN DIENS
(1) Niemand behalwe die munisipaliteit, of ‘n persoon gemagtig deur die munisipaliteit, mag enige vullis van enige perseel verwyder of daarvan wegdoen nie.
(2) Elke eienaar van persele moet, waar ‘n diens gelewer word, gebruik maak van die diens wat deur die munisipaliteit voorsien word vir die verwydering of wegdoen van vullis, ten opsigte van vullis wat vanaf sodanige persele ontstaan.
(3) Die tarief vasgestel deur die munisipaliteit sal deur die eienaar aan die munisipaliteit betaalbaar wees, ongeag of van die diens gebruik gemaak word, al dan nie
(4) Die bepalings van hierdie artikel is nie van toepassing op ‘n eienaar van residensiële persele wat by geleentheid verlang om tuinvullis wat op sodanige perseel gegenereer is, weg te doen nie.
(5) ‘n Persoon wat die bepalings van subartikels (1), (2) en (3) oortree begaan ‘n misdryf.
19. VERBRANDING VAN AFVAL
Geen persoon mag afval sonder die skriftelike goedkeuring van die munisipaliteit brand nie.
Plaaslike owerhede is derhalwe verplig om toe te sien dat bogenoemde wetgewing nagekom word.
Die implementering van vullisverwydering in die landelike areas was deeglik gekommunikeer tydens die begrotingsproses, vir 2018/19 nl:
a) Die landbouverenigings is in kennis gestel van geskeduleerde werkswinkels vir die “Hersien en Opdateer van Begroting verwante Beleide en Verordeninge vir die boekjaar 2018/19”. Die vergaderings was gehou op;
- Albertinia: 16 November 2017
- Heidelberg: 15 November 2017
- Riversdal en Plase: 14 November 2017
- Stilbaai: 13 November 2017
b) Na afloop van die werkswinkels, is daar geleentheid gegee vanaf 9 April 2018 tot 4 Mei 2018 vir kommentaar. Hierdie kennisgewing het ook op die munisipale maandelikse rekening verskyn.
Vergelyking tussen die tariewe in die dorpsgebied en landelike area:
DORP PM LANDELIK PM
Residensieel R148.35 R 89.00
Besighede R334.65 R201.00
Landelike areas waar geen woning of geboue op staan nie, sal geen heffings betaal nie, omdat daar nie vullis gegenereer word nie.
Vullisverwydering is ‘n handelsdiens waarvoor ‘n tarief gehef word en moet nie verwar word met belasting op landelike eiendom nie.
Plaasbewoners/eienaar kan hul vullis op ? roetine basis in beskikbare massa vullishouers langs hoofroetes plaas en word vullis op verskillende roetes langs paaie ten minste een keer per week verwyder.
Wetgewing is verpligtend en word plaasbewoners/eienaars versoek om nie afval te verbrand nie en die munisipale verordening na te kom.
Lees 'n brief van 'n boer in die omgewing.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'