Plaasjapie, Albertinia:
Die DA het hom sterk en aanhoudend uitgespreek oor die wanpraktyke by Eskom, spesifiek rekeninge van sekere partye vir miloene der miljoene rand vir 'dienste' wat nooit gelewer is nie. Dit gaan daarom dat daardie rekeninge betaal is sonder dat daar enige teken van die beweerde dienste was.
Nou sien ons presies hierdie selfde Gupta-tipe valsheid by die Hessequa-munisipaliteit, wat onder die DA se beheer staan.
Rekeninge is uit die bloute bestel aan dosyne grondeienaars wat al jare op hul eie aangewese was en steeds is, wat betref vullis op hul eiendomme. Die munisipaliteit hef geld vir vullisverwydering op plase, wat eenvoudig nie bestaan nie.
Iemand uit die duinegebied van Albertinia het navraag gedoen en toe moes hy hoor nee, daar is nie vullisverwydering nie, hy kan maar sy vullis self aanry na die stortingsterrein op die dorp.
Dus moet 'n mens nou die vraag stel aan die DA se uitvoerende burgemeester, Grant Riddles: Is dit eerlik om geld te hef vir dienste wat nie gelewer word nie, ja of nee? Grant, sê net ja of nee.
Dan kan ons weet hoe opreg die DA is in sy kritiek op die gedoentes by Eskom.
Opsomming van kommentaar van Hessequa-munisipaliteit en uitvoerende burgemeester, Grant Riddles
Die Hessequa raad het 'n beleid aanvaar waarvolgens grondeienaars in die landelike gebied 'n tarief gehef sal word vanaf 1 Julie vanjaar vir 'n vullisverwyderingsdiens.
Kragtens die munisipaliteit se verordeninge insake die wegdoening van vaste afval, mag niemand, behalwe die munisipaliteit of 'n persoon gemagtig deur die munisipaliteit, vullis van enige perseel verwyder of daarvan wegdoen as dit nie aan die wetgewing voldoen nie.
Landelike areas waar geen woning of geboue op staan nie, sal geen heffings betaal nie, omdat daar nie vullis gegenereer word nie.
Plaasbewoners/eienaar kan hul vullis op 'n roetine basis in beskikbare massavullishouers langs hoofroetes plaas en word vullis op verskillende roetes langs paaie ten minste een keer per week verwyder. Die diens is in die landelike gebiede van Gouritsmond, Stilbaai, Vermaaklikheid en Garcia.
Wetgewing is verpligtend en word plaasbewoners/eienaars versoek om nie afval te verbrand nie en die munisipale verordening na te kom.
• Vir die volledige kommentaar, gaan na ons webtuiste by www.suidkaapforum.com