Update
HESSEQUA NUUS - Ontevrede grondeienaars in landelike gebiede is gegrief omdat hulle 'n heffing vir vullisverwydering moet betaal.
"Ons het 'n stukkie grond in die Blombos-gebied, maar ons genereer baie min vullis terwyl ons daar is," het 'n bejaarde grondeienaar wat anoniem wil bly, vir Suid-Kaap Forum vertel.
"Ons voel ons betaal reeds belasting en wil nie 'n bykomende heffing betaal nie, want ons moet boonop meer as 40 km ry om die sakkie vullis in 'n houer te gaan plaas."
Volgens dié eienaar is hulle nie vooraf in kennis gestel van die heffing wat sedert 1 Julie 2018 gehef word nie. "Ons het nie geleentheid gekry om aan die proses deel te neem en daarteen beswaar te maak nie. Ons sal vir 'n diens betaal wat ons nodig het, maar ons maak nie hiervan gebruik nie en wil nie gedwing word om die heffing te betaal nie."
Hessequa-munisipaliteit het egter op die koerant se navraag gesê dat die voorneme wel deeglik gekommunikeer is. "Landbou-verenigings is vooraf in kennis gestel en 'n reeks vergaderings is van 13 tot 16 November in Stilbaai, Riversdal en plase, Heidelberg en Albertinia gehou. Vanaf 9 April tot 4 Mei 2018 is ook geleentheid vir kommentaar gebied en die kennisgewing het op die maandelikse rekenings verskyn."
Die tariewe beloop R148,35/maand in residensiële gebiede en R89/maand in landelike gebiede; besighede in dorpsgebiede betaal R334,65/maand en in landelike gebiede is die heffing R201.
Die bywette oor die wegdoen van vaste afval behels die volgende
- Niemand buiten die munisipaliteit of 'n persoon wat deur die munisipaliteit gemagtig is, mag vullis van enige perseel verwyder of weggooi nie.
- Elke eienaar van persele moet gebruik maak van die diens ten opsigte van enige vullis wat genereer word.
- Die tarief wat deur die munisipaliteit vasgestel is, is betaalbaar of die diens gebruik word of nie.
- Die bepalings geld nie vir eienaars van residensiële persele wat van tyd tot tyd tuinvullis wil wegry nie.
- Geen persoon mag afval sonder skriftelike goedkeuring van die munisipaliteit brand nie.
Enigiemand wat hierdie bepalings oortree, begaan 'n misdryf en die plaaslike owerheid is verplig om toe te sien dat die wetgewing nagekom word.
Die plaaseienaar of -bewoners kan hul vullis op 'n roetinebasis in beskikbare massa-vullishouers langs hoofroetes plaas, van waar dit ten minste een maal per week verwyder sal word.
In landelike gebiede waar geen woning of geboue is en geen vullis genereer word nie, word geen tarief gehef nie.
Voorts is vullisverwydering 'n handelsdiens waarvoor 'n tarief gehef word en dit moenie met belasting op landelike eiendom verwar word nie.
• Lees 'n vorige artikel hier: Landelike bewoners mor oor vullisverwydering
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'