Update Video
RIVERSDAL NUUS - Twee vroue het Sondag 10 Maart 'n traumatiese ervaring gehad toe 'n groot swart hond hulle by Stilbaai aangeval en hul hondjie Rosie probeer bykom het.
"Ons was op pad na ons motor nadat ons langs die Goukourivier gestap het toe 'n groot, swart hond skielik op ons afstorm," vertel Grieta de Jager, wat saam met haar dogter Elzette gaan stap het.
Grieta het Rosie, wat aan 'n leiband was, bokant haar kop opgetel om haar uit die kake van die groot hond te hou. "Die groot hond het aangehou om teen ons op te spring. 'n Groep mense wat daar naby met 'n doopseremonie besig was, het my met Rosie en al by my motor se agterdeur ingestoot. Hulle het Elzette ook gehelp om in die motor te kom. Ek het oorgeklim na die bestuurdersitplek en weggery."
Volgens haar was die groot hond verwoed. "Ek weet nie wat hom makeer het nie. Hy was baie aggressief. Hy het aanhou opspring teen die motor in 'n poging om in te klim. Selfs toe ons wegry, het hy agterna gehardloop.
"As dit nie vir die mense was nie, sou ons nie kon wegkom nie. Dit is 'n wonderwerk dat ons nie uitmekaar geskeur is nie. Ons het nie eens kans gehad om die mense te bedank nie."
In die harwar kon sy nie die ander hond identifiseer nie. "Al wat ek weet is dat hy nie 'n halsband aangehad het nie en daar was geen teken van sy eienaar nie."
Suid-Kaap Forum het navraag by Hessequa-munisipaliteit gedoen en het slegs die bywette oor honde ontvang. Die koerant wou spesifiek weet of enige boetes sedert Desember verlede jaar tot op datum aan oortreders uitgereik is, maar geen verdere kommentaar is voor spertyd ontvang nie.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Vroue vlug vir verwoede hond
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'