Update
GOURITSMOND NUUS - Wat is die kans dat 'n vis hom twee keer sal laat vang?
En tog is dit presies wat vroeër vanjaar in die see by dié kusdorp gebeur het. "
Kyle Hansen het in 2015 'n rooisteenbras van 61 cm gevang wat ons van 'n merker voorsien het," vertel Org Nieuwoudt, eienaar van die diepseehengelboot Rogue 1.
"In Januarie vanjaar het Andries Rietsma daai einste vis op dieselfde plek gevang, maar nou is dit al 93 cm lank!"
Hy het vier jaar gelede by die Oseanografiese Navorsingsinstituut aangesluit en het toe begin om die visse wat sy kliënte vang, te merk. "Sedertdien het ons sowat 50 visse gemerk, maar dit is slegs die tweede een wat ons weer aan die hoek kry."
En ja, die vis swem weer. "Dit het sowat 'n halfuur geneem om die vis gereed te kry om terug te gaan water toe want hy was moeg gespook."
Toe hy 15 jaar gelede in die bedryf betrokke geraak het was hy by die destydse Mariene- en Kusbestuur (MCM) betrokke en het insette oor kommersiële hengel gelewer. "Ek het toe agtergekom hoe uitgewis ons inheemse visspesies is. Ek het Kyle en sy pa ontmoet en hulle het my oorreed om die visse wat gevang word te begin merk en terug te plaas."
Die merkers word deur die instituut verskaf en vir Desember het hy slegs sowat 20 merkers ontvang. "Die visse word gemeet en aangeteken. Elke spesie se lengte het 'n spesifieke gewig en dis nie nodig om die visse ook te weeg nie." Al die inligting wat hy oor die visse versamel, word aan die instituut vir navorsingsdoeleindes verskaf.
Die meeste vis wat in die somer gevang word, is boerkabeljou (dusky cob). "Hulle kom meestal in vlakker water en riviere voor en is so erg bedreig dat daar slegs 2,7% van die historiese broeipare oor is."
Ander spesies wat in die somer uitgetrek word is silwerkabeljou wat net in die see voorkom. Omdat dié spesie kommersiële waarde het, begin hulle ook al skaars raak. Ander spesies wat in die somer gevang word is rooisteenbras en swartpoenskop, wat albei erg bedreig is. Ander sluit witpoenskop, charlie, roman, geelpens-klipkabeljou, santa en geelstert in. In die winter word meestal wit stokvis gevang. Roofvisse wat die aas vat is bonito, geelvintuna en penstreeptuna (skipjack tuna).
Die meeste vis wat gevang word, word teruggegooi, maar omdat hy net 'n sekere aantal merkers ontvang, kan nie al die visse gemerk word nie.
Vis wat volop is soos stokvis en silwerkabeljou mag gehou word mits dit 'n sekere lengte is. Skaars spesies word feitlik sonder uitsondering teruggeplaas. "Soms dring iemand daarop aan om die vis vir trofee-doeleindes te hou, maar die vis moet steeds groot genoeg wees. Ek probeer almal maar op 'n mooi manier oorreed om die visse eerder te laat gaan."
Die rooisteenbras wat in September 2015 deur Kyle Hansen gevang is, was toe 63 cm lank.
Lees 'n vorige artikel: Vis laat hom sowaard twee keer vang
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'