Update
STILBAAI NUUS - Indringerplante soos Port Jackson (Acacia Saligna) en Rooipitjie (Acacia Cyclops) verdring ander inheemse plantegroei en is 'n brandgevaar, daarom moet dit uitgeroei word.
Kappers en belangstellendes van Stilbaai kom elke tweede Saterdag by die plaaslike hengelklub bymekaar met een gemeenskaplike doel - die uitroei van dié plante.
Die teiken is die 62 hektaar van unieke natuurlike plantegroei tussen die gholfbaan en die Jongensfonteinpad. Gewapen met kettingsae en gif woel hierdie groepie in voorafbepaalde blokke om die indringerplante af te saag en gif te verf.
Met Suid-Kaap Forum se besoek was daar ses vrywilligers wat 'n verskil wou maak. Die bedrywighede begin so 08:00 en kappers is gewoonlik tot ongeveer 10:00 besig indien die weer dit toelaat.
Volgens dr Deon Begemann is hier 'n baie unieke verskeidenheid van plantegroei en het die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit al 'n opname hiervan kom doen. In hierdie studie deur dr Adriaan Grobler en Susan Botha in September 2018 het hulle bevind dat 184 plantspesies hier voorkom, waarvan agt indringerspesies is.
"Wat min mense ook weet, is dat die hoof waterbron van Stilbaai onder hierdie duine lê en die water word deur middel van boorgate onttrek," het Begemann vertel.
Ontwikkeling en groei in Stilbaai vind teen 'n fenomenale pas plaas. Groen stroke is egter uiters belangrik in stedelike ontwikkeling. Central Park in New York is sekerlik een van die gesogste stukke grond in Amerika, maar die stadsvaders behou dit as 'n park waar die inwoners vrylik in die natuur kan ontspan.
Indien bewaring jou passie is en jy op die tweede Saterdag van elke maand verveeld is, kan jy gerus by die groepie gaan aansluit en help uitroei.
Die groepie is vasbeslote om uiteindelik alle indringerplante in Stilbaai uit te roei.
VORIGE ARTIKEL: Indringerplante kom hul moses teë
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'