Update
STILBAAI NUUS - Die plaaslike toerismekantoor word 'n bietjie opgekikker.
'n Groot lugfoto, wat deur 'n besoeker Armand Vermeulen, met sy drone geneem is, is Saterdag 13 Oktober opgehang nadat die nodige verfwerk gedoen is.
Dié foto is besonders omdat dit so onlangs as September geneem en dit duidelik en helder is. Die omgewing van Jongensfontein tot net duskant Preekstoel word duidelik uitgebeeld. Dit is deur die Stilbaai App aan die kantoor geskenk.
Die kantoor, wat ook as die inligtingsentrum dien, word stelselmatig deur die bestuur opgeknap en daar is ook planne om die unieke winkeltjie, waar 'n verskeidenheid items en kuns van die omgewing aangekoop kan word, op te knap. Dit volg nadat die inligtingskiosk langs die R305, net voor die brug, ook onlangs heeltemal oorgedoen is en besoekers nou met heelwat inligting en kunstige natuurtonele verwelkom.
Die toerisme- en inligtingskantoor speel 'n uiters belangrike rol in Stilbaai. Een van die dorp se toeriste aantreklikhede is ook hier geleë aangesien die varswaterpalings, wat daagliks om 11:00 gevoer word, hier woonagtig is. Daar is ook 'n restaurant en drie interessante museums wat die argeologiese museum en die skoolmuseum insluit.
Die toerismekantoor kan daagliks van 09:00 tot 17:00 besoek word en Saterdae van 09:00 tot 12:00. Die kantoor is toe op Sondae.
Besoek Stilbaai se toerismekantoor in Langenhovenstraat. Vir enige navrae skakel 028 754 2602.
Lees 'n vorige artikel: Toerismekantoor kry kleur
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'