Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Toe die alarm in Huis Zenobia du Toit Donderdagoggend 29 November loei, het die bejaarde inwoners presies geweet wat om te doen.
Hulle het uit hul woonstelle en kamers op die tweede verdieping gekom en buite in die gang, langs die deur stelling ingeneem. Die personeel, waar hulle ookal besig was, het alles net so gelos en hulle na die tweede verdieping gehaas.
Hier het hulle die meeste van die inwoners gou in rystoele geplaas en vinnig na buite geneem.
Die wat sterk genoeg is om self te kan loop, is deur personeel na buite gehelp. Ander personeel het die medisynetrollies uitgestoot, na waar die inwoners almal in die kerksaal bymekaar gebring was.
Die brandweer en ambulans het intussen met loeiende sirenes by die toneel aangekom. Binne vyf minute was die tweede verdieping ontruim en die brandweerpersoneel in en uit die kamers - besig om die oorsprong van die 'brand' te probeer vasstel. Buite het die ambulans met 'n oop deur gestaan, gereed indien hul iemand sou moes inlaai.
In die kerksaal was daar stille opgewondenheid. Terwyl die meeste bedeesd gesit en 'n sappie gedrink het, was ander weer merkbaar spraaksaam.
Verpleegbestuurder sr. Hanrico Mostert-Fourie, die hoof-organiseerder van die fopbrand en ontruimingsoefening was baie tevrede met die samewerking van die inwoners en personeel. Hy het die nooddienste van Heidelberg en Hessequa vir hul samewerking en ywer geloof om 'n tikkie werklikheid aan die oefening te gee.
"Die veiligheid van ons bejaardes is vir my 'n groot en belangrike aspek. Inwoners moet bewus van hul omgewing wees en die potensiële risiko's wat daar is wat brande kan veroorsaak. Ek is tevrede dat wanneer die werklikheid inslaan, ons mense paraat sal wees. Die gemeenskap moet weet dat ons hul geliefdes veilig sal uitbring in 'n tyd van nood."
Kyk 'n video hieronder:
Die bestuurder, Heidi de Jager sê: "Vir 'n lang tyd was die ontruiming van die huis in ons koppe. Nou weet ons presies wat die ontruiming behels. Ek is trots op die inwoners wat almal so kalm gebly het."
Inwoners Hennie en Hannatjie van Schalkwyk was beïndruk. Hennie, wat lank in die Vloot gewerk het, is gewoond aan ontruimingsoefeninge en was tevrede met hierdie eerste oefenlopie van die tehuis. Hannatjie het die personeel uitgesonder vir flink optrede en professionele gedrag.
Mostert-Fourie gaan 'n opvolgsessie hou sodat inwoners en personeel 'n volgende keer nog meer paraat kan wees.
Lees 'n vorige artikel: Tehuis word ontruim
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'