Update
HEIDELBERG NUUS - Met die warm somer-seisoen op hande en die veiligheid van swemmers, is dit verblydend dat daar dringende aandag aan dié aspek gegee word.
Twee passievolle onderwysers van Hoërskool Heidelberg het net voor die skole vir die vakansie gesluit het, sowat 60 leerders vanaf gr. 1 tot 3 vir swemlesse by die plaaslike swembad geneem.
Dié lesse is in samewerking met vrywillige lewensredders, Hessequa-brandweerdienste, ambulans-, asook plaaslike polisiedienste aangebied. Die leerders is oor veiligheid en nooddienste in en om die swembad ingelig.
Verskeie aspekte van eerstehulp nooddienste, soos mond-tot-mond asemhaling is aan hulle uitgewys. Daar is veral op spelery in en om die swembad klem gelê om verdrinkings te voorkom. Die leerders het die lesse en veiligheidswenke geniet en het hul kennis baie spontaan aan hul fasiliteerders geïllustreer.
Na die swemlesse is erkenning aan die lewensredders gegee wat hul eerstejaar eksamens suksesvol voltooi het. Caville Abrahams, Hessequa-lewensredderskoördineerder, het die groep toegespreek en bedank vir hul onbaatsugtige diens wat hulle lewer.
Lees 'n vorige artikel hier: Swemveiligheid is belangrik.
Die lewensredders het die leerders die fynere kunsies van swem en veiliheid in die water wysgemaak. Hier staan hulle saam met twee munisipale beamptes en die vrywillige opvoeders. Van links is Clint Paige, Aiden Erasmus, Etienne Thuizen (tegniese dienste oorsiener), Leon Hartnick (swembad opsigter), Lani Barnard, Johan Mostert, Hannie Lerm en Jaidin September. Voor: Jayden Hartnick en Wilbeth Roberts.
Die lewensredders het hul eerstejaar eksamens geslaag. Caville Abrahams (heel regs) staan by van links Martin le Roux, DJ Geldenhuys, Roann Joubert, Jaylin Opperman, André Fourie en Thirstan Scholtz. Foto's: Clive Pretorius, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'