Gallery
STILBAAI NUUS - Kunstenaars kan in enige medium pragstukke skep en die uitstallers wat aan die eerste kwiltfees op dié kusdorp deelgeneem het was geen uitsondering nie.
'n Stuk lap in die regte hande kan 'n duisend verhale vertel en die fyn vakmanskap getuig van geduld, kreatiwiteit en liefde vir die stokperdjie.
Die dryfkrag agter die fees is Nell-Marie van Eeden, 'n vrou wat self vele jare van kwilt agter haar naam kan skryf.
Op die openingsaand het die eienaar van 'n plaaslike materiaalwinkel, wat saam met Van Eeden die fees gereël het, Seth Stephens, vertel hoe sy eendag oor 'n koppie koffie die saadjie vir die uitstalling geplant het. Toe hy en sy vrou Gina hul oë uitvee het die uitstalling 'n week van klasse en feesvier so tussen die naaldwerk deur geword.
'n Gesellige openingsgeleentheid is Maandagaand 9 September in die plaaslike gholfklub gehou. Benewens die meesterstukke op uitstalling kon gaste ook musikale vermaak deur plaaslike kunstenaars geniet.
Die organiseerders beoog om die fees 'n jaarlikse instelling te maak.
Gaste geniet musiek verskaf deur Matthys Streicher en George van den Berg wat deur Elize Pienaar op die klavier begelei word. Foto: Deona Aucamp
Nell-Marie van Eeden by Suzette Ehlers se pryswennerkwilt 'Marakesh'. Die pragstuk is in 2012 by die World Quilt Show in Amerika as die beste inskrywing uit Suid-Afrika en nr. 1 kykerskeuse aangewys. Foto: Deona Aucamp
Lees 'n verwante artikel hier: Kwilte by eerste fees slaan asems weg
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'