Update
STILBAAI NUUS - Die gemeenskap het Maandagoggend 6 November die Swart Maandag-aksie wat die vorige Maandag (30 Oktober) landswyd plaasgevind het, weer ondersteun nadat 'n klein groepie die vorige week ook bymekaar gekom het.
Elizma Kasselman de Jager wat op 'n plaas op Droëvlakte boer, het die inisiatief van stapel gestuur en dit is in samewerking met die plaaslike polisie, asook Hessequa-verkeer beplan.
Die optog was nie polities van aard nie en was teen plaasmoorde en geweld.
Meer as 50 voertuie en heelwat meer inwoners, besigheidslui en boere het 10:00 by Die Brugmark-terrein in Stilbaai-Oos bymekaar gekom, waarvandaan hulle onder polisiebegeleiding oor die brug na die oop terrein langs die munisipale kantore gery het.
Swart vlae het gewapper terwyl 'Stop Killing Farmers'-plakkers op een van die voertuie gepryk het met 'n bakkie wat 'n Stop Plaasmoorde-plakkaat op gehad het.
Van links staan Rheta Fouche, Theuns Botha en Christiaan van Wyk, almal boere van die omgewing.
By die eindpunt het Chris van Schalkwyk, 'n boer van die omgewing die groep van ongeveer 100 toegespreek terwyl ds. Vian Louw 'n gebed gedoen het.
Die groep het daarna vreedsaam uitmekaar gegaan.
Lees 'n vorige artikel: Stilbaai ondersteun Swart Maandag
ARTIKEL EN FOTO'S: ELZA THIART-BOTES, KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'