Update
STILBAAI NUUS - Inwoners van Stilbaai-Hoogte is al raadop omdat hulle voel dat nie die provinsiale paaiedepartement, óf Hessequa-munisipaliteit hulle aan verkeersprobleme in dié omgewing steur nie.
'n Segsman wat namens 'n groot groep inwoners met Suid-Kaap Forum gepraat het, sê dié probleem kom sedert Februarie 2017.
"Ons het met die munisipaliteit vergader rakende die gevaarlike aansluiting van Orchid-rylaan met Hoofweg-Wes. Tot dusver was dit net 'n oor-en-weer skrywery, maar niks word gedoen nie. Moet daar eers 'n ernstige ongeluk gebeur wat tot lewensverlies lei, of gaan hulle na byna vyf jaar iets omtrent hierdie gevaarlike situasie doen?" het Jan de Bruyn gesê.
Volgens die ontstoke inwoners bars Stilbaai uit sy nate en dit is nie meer net Desember en Paasnaweek wat dit wemel van voertuie nie.
"Lorrievragte bakstene word daagliks van Mosselbaai, Riversdal en selfs verder aangery. Die kaal stuk grond tussen Hanlie's Bistro word ontwikkel. Daar is reeds planne vir 'n besigheid of besighede en aansoek is vir 24 parkeerplekke gedoen. Nog motors en afleweringsvoertuie."
Die Hoogte-inwoners het aanvanklik vir 'n verkeersirkel gevra, maar dit is egter te duur. Hulle vra toe vir 'n drierigting-stop. "Die munisipaliteit was ook nie daarvoor te vinde nie. Die volgende voorstel is verkeerskalmering van herwinde plastiek wat oor die pad gelê word soos 'n hobbel en wat aan die padoppervlak vasgebout word," het De Bruyn gesê. Hy het juis op 'n besoek aan Potchefstroom foto's van so 'n hobbel geneem.
"Die munisipaliteit het wel aangedui dat dit 'n prioriteit is en dat hulle verligting gaan bring, maar die vraag is wanneer?"
Volgens die inwoners is die voorgestelde verandering wat die munisipaliteit aan die provinsie gemaak het, nog gevaarliker as wat tans die geval is (sien grafiese voorstelling hiernaas).
Grafiese voorstelling van 'n toegangsbestuursplan vir Hoofweg-Wes.
Munisipale kommentaar
Na aanleiding van die toenemende ontwikkeling in Stilbaai het die munisipaliteit twee langtermyn aksieplanne voorgestel ten einde die groterwordende verkeer wat ervaar word aan te spreek.
Die eerste plan behels die goedkeuring van die westelike verbypad wat as alternatiewe verbinding sal dien tussen Hoofweg-Wes en die Jongensfontein-pad. Die belyning van hierdie verbypad is reeds goedgekeur en die beplanning vir implementering daarvan is oor 'n 10 jaar periode.
Die tweede plan wat voorgestel is, is die opstel van 'n toegangsbestuursplan vir die westelike deel van Stilbaai met spesifieke verwysing na die toegange wat in en uit vanaf Hoofweg-Wes loop. Dit fokus op bestaande infrastruktuur soos padtoestande en interseksie uitlegte.
Verkeersvolumes was bepaal deur middel van verkeerstellings op 14 kritiese interseksies oor 'n tydsverloop van 12 uur per interseksie. Die tellings word gebruik om die bestaande vlak van dienste langs die hoof toegangsroetes te bepaal, asook om die toekomstige verkeersvolumes te bepaal.
Hierdie bestuursplan word tans deur die provinsiale departement padnetwerk-infrastruktuur geëvalueer en sal hulle kommentaar aan die munisipaliteit voorsien. Daarna sal 'n publieke deelnameproses gevolg word om dan uiteindelik die plan deur die Raad te laat goedkeur.
Die provinsie het aangedui dat hulle nie ten gunste daarvan is om spoedkalmerende plastiekhobbels op hulle pad aan te bring nie. Die munisipaliteit wil die voorstelle wat gemaak word in die bestuursplan oor 'n tydperk van vyf jaar implementeer en is van mening dat dit sal bydra tot die verbetering van die verkeer op die Hoofweg.
VORIGE ARTIKEL: Stilbaai-Hoogte vra 'n hobbel
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'