Gallery Update
SLANGRIVIER NUUS - 'n Hewige reën- en windstorm het Sondagoggend 29 September groot skade op die dorp aangerig.
Ten minste vier gesinne se huise is getref. Twee gesinne in Dollar Square, Heidelberg se houthuise is ook beskadig.
'n Middeljarige egpaar het so te sê al hul besittings in 'n oogknip verloor. Hilliët en Caroline Hartnick (albei 49) en hul vier seuns van wie die jongste (19) serebraal gestremd is, se huis is in puin gelaat nadat die ramp hulle net voor 10:00 getref het.
'n Erg geskokte Caroline vertel dat sy besig was om kos te kook terwyl haar man kerk toe was.
"Toe ek die slag hoor en opkyk en sien my dak word afgewaai, het ek net om hulp geskree en na my kamer gehardloop en myself oor my jongste seun, Adrian, gegooi om hom teen die reën en wind te beskerm."
Die dak het sowat 15 meter verder in die straat te lande gekom. "Sjoe, dit was vreeslik, ek wil nie weer deur so iets gaan nie," het sy geskok gesê terwyl sy by haar bure skuiling gesoek het.
Hilliët het homself huis toe gehaas om sy vrou en seun by te staan na hy die nuus ontvang het.
Bure en die plaaslike rampbestuur-personeel was gou op die toneel om die gesin te help om hul besittings teen die gure weer te beskerm. Gerald Boezak, wyksraadslid en Hermanus Michaels, Hessequa-behuisingsbeampte het die gesin na afloop van die kerkdiens besoek.
Die gesin se onmiddellike toekoms lyk bleek en hulle is op die oomblik aan bure, familie en vriende se genade oorgelaat. Indien noodbystand vanaf die munisipaliteit ontvang sou word, sal dit nie genoeg wees om die skade aan die huis te herstel nie.
Die gesin sal enige bystand, finansieel of andersins, waardeer. Hartnick kan by 076 241 5987 geskakel word.
Drie ander huise in die dorp is ook beskadig en een woning in De Kloof se dak is deur die wind afgeruk.
Lees 'n vorige artikel hier: Slangrivier ly stormskade
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'