Update
ALBERTINIA NUUS - 'n Tragedie is voorkom toe drie skoolkinders en 'n busbestuurder 'n vlammehel vrygespring het toe hul skoolbus aan die brand slaan.
Rosina Joseph was Maandagoggend, 12 Oktober in die Weltevrede landelike gebied met drie kinders op pad om nog ander op plase op te laai en na Oker Primêre Skool te neem.
By die Weltevrede laagwaterbrug, 'n sytakrivier van die Valsrivier wat in vloed was, het sy gestop en een van die kinders gevra om te kyk of hy die pad kan sien en die brug gangbaar is.
Joseph vertel die seun het aangedui dat mens nie die pad oor die brug kan sien nie. Haar agt jaar ondervinding van skoolbus bestuur het haar laat besluit dit gaan te gevaarlik wees om die rivier aan te durf.
"Toe ek omkyk om agteruit te ry en om te draai, het ek iets soos stof of rook agter die bus sien uitborrel. Toe ek weer vorentoe kyk het rook by die sekeringskas onder die stuurwiel uitgekom. Ek het dadelik besef ons moet uit die bus spring," het Joseph gesê.
Sy en die drie passasiers het alles wat hulle kon red uitgegooi en van die bus wegbeweeg wat toe reeds in vlamme gehul was.
Sy sê dis net 'n wonderwerk dat niemand beseer is en brandwonde opgedoen het nie.
"As ek probeer het om deur die rivier te ry en die bus het op die brug gaan staan, was die kanse goed dat ons in die vloedwater sou verdrink." Joseph vertel sy is net baie dankbaar die bus was nog nie vol nie, anders sou die kinders mekaar vertrap het om uit te kom, wat 'n tragedie tot gevolg sou gehad het.
Nie die eienaar van die bus of Oker Primêr se skoolhoof kon met ter perse gaan vir kommentaar bereik word nie.
Albertinia se polisieskakelbeampte, ao Ciska Badenhorst het Dinsdag, 13 Oktober gesê hulle dra geen kennis van die voorval nie, hoewel skoolbusverwante ongelukke by die polisie aangemeld moet word. Sy sou die voorval onmiddellik met die nodige instansies en persone opneem.
Joseph sê sy vermoed die brand het weens 'n kortsluiting ontstaan.
Die skoolbus na die brand geblus is.
Vorige artikel: Vier ontsnap vlammehel
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'