MELKHOUTFONTEIN NUUS - Leerders van Melkhoutfontein Primêre skool wat in die Blikhuis-omgewing by Rietvlei woon, word steeds douvoordag by die skool afgelaai.
Suid-Kaap Forum het al einde Januarie ondersoek na die ongelukkigheid oor die busdiens wat die kinders vervoer, begin instel.
Dieselfde bus wat kinders op Blikhuis na Melkhoutfontein moet neem, moet baie vroeg ry om ander kinders betyds vir skool by Gerrit du Plessis Senior Sekondêre skool in Riversdal af te laai. Die omgekeerde gebeur in die middag en leerders so jonk as gr. R se skooldag strek gevolglik elke dag van 06:00 tot na 15:30.
Die kontrakteur aan wie die Wes-Kaap onderwysdepartement (WKOD) dié lang roete toegeken het, Lionel Fortuin van George, het aanvanklik gesê hy word net vir een voertuig betaal en die departement moet die probleem oplos.
Volgens Millicent Merton van die WKOD is Fortuin wel nou besig om 'n tweede voertuig in bedryf te stel, maar dis nog nie padwaardig nie en hy kon geen aanduiding aan hulle gee hoe lank dit sal neem nie.
Die beheerliggame van Melkhoutfontein Primêr skool en Gerrit du Plessis beoog om so gou moontlik 'n vergadering met die kontrakteur en die kringbestuurder van Kring 1 van die Eden en Sentrale-Karoo onderwysdistrik, Mias du Plessis te reël. Meer inligting sal bekendgemaak word sodra dit ontvang word.
Vorige artikels:
- Busdiens bly tameletjie
- Bus-sage sleep voort
- Busdienste vir leerders in die spervuur
- Busdiens vir Melkies-leerders krap
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'