Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - Die probleem met die busdiens vir sommige leerders van Melkhoutfontein Primêre skool is steeds nie opgelos nie.
In Suid-Kaap Forum van 30 Januarie is berig oor kinders so jonk as gr. R vanaf Rietvlei en omgewing wat reeds teen 06:00 by die skool afgelaai word en eers na 15:00 weer opgelaai word.
Lionel Fortuin van George, die kontrakteur aan wie dié lang roete deur die Wes-Kaap onderwysdepartement (WKOD) toegeken is, het aangevoer hy word net vir een voertuig betaal.
Dieselfde bus wat kinders op Rietvlei na Melkhoutfontein moet neem, moet ander kinders betyds vir skool in Riversdal aflaai. Die omgekeerde gebeur in die middag.
Na onderhandelinge tussen die WKOD en Fortuin het Millicent Merton van die departement gesê die kontrakteur sal so gou moontlik 'n tweede voertuig in bedryf stel.
Die skool het intussen gereël dat die hekke vroeg oopgesluit word en iemand toesig oor die kinders hou.
Dit het egter onder Suid-Kaap Forum se aandag gekom dat die busdiens nog nie verander het in die twee weke sedert onderhandelinge begin het nie. Ouers het ook ander griewe met betrekking tot die vervoer van hul kinders gelug.
Navrae is aan die WKOD gerig, maar teen druktyd was hulle nog nie met 'n antwoord gereed nie.
Meer inligting sal bekendgemaak word sodra kommentaar van die departement ontvang is.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'