Update
RIVERSDAL NUUS - Hoërskool Langenhoven het op Dinsdag, 16 November afskeid van hul legendariese skoolhoof, mnr Piet de Villiers geneem.
De Villiers het na 'n kwarteeu as hoof van die skool besluit om vanjaar die tuig neer te lê.
Hy het op 1 Januarie 1981 by die skool begin werk en het vir 41 jaar sy lewe daaraan gewy om Hoërskool Langenhoven te vorm tot waar dit vandag is.
Die skool het erewag gestaan en vlaggies gewaai toe hy en sy vrou, Susan deur mnr Frans Myburgh (ouer en oud-beheerliggaamvoorsitter) met 'n gholfkar ingery kom. Madré Davids, hoofmeisie van 2022 en verskeie oudleerders is deel van 'n blaasorkes, wat musiek gemaak het terwyl hulle ingery het.
Mnr Jan Odendaal, 'n oud-onderwyser en afgetrede OBOS-Oos kringbestuurder het saam met mnr André Hansen van Hessequa-munisipaliteit 25 wit kareebome aan die skool geskenk. Dit eer De Villiers se 25-jaar en is die 25ste boom tydens 'n seremonie geplant.
Fotogalery: Hoërskool Langenhoven groet Mnr de Villiers
Grant Riddles, uitvoerende burgemeester, Mariëtte Myburgh, voorsitter van die skool se beheerliggaam, Myburgh, die hoof- en onderhoofleiers van die skool het die seremonie bygewoon.
Die leerders het erewag gestaan terwyl mnr Frans Myburgh die hoof, mnr Piet de Villiers en sy vrou, Susan met 'n gholfkarretjie by die skoolterrein ingeneem het.
Hierna is daar na die paviljoen beweeg waar verskeie toesprake deur Myburgh en die leiers van die skool gemaak is. Almal het De Villiers se ongelooflike karakter, hardwerkendheid, passie vir sy werk en leerders en ongelooflike goeie hart uitgelig.
Vyf-en-twintig wit duiwe is losgelaat terwyl 'n leerder van die skool die Seënlied gesing het. Daar is ook 'n dansie spesiaal vir die geleentheid deur leerders uitgevoer.
Isabel Coetzee, 'n graad 10-leerder het 'n pragtige tekening van die hoof geskets en dit is aan hom oorhandig.
Die hoofseun help mnr Piet de Villiers om die 25ste wit kareeboom te plant, simbolies van die 25 jaar wat hy skoolhoof was.
Vorige artikel: Legendariese skoolhoof lê tuig neer
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'