STILBAAI NUUS - Verskeie sake is tydens die Tuin-op-die-Brak se algemene jaarvergadering op Woensdag 22 November bespreek.
Een van die vele dinge wat van Stilbaai 'n unieke plek maak, is sy ryk intellektuele erfenis.
"Die beoogde Blombos argeologiese en fynbos sentrum is nie net 'n droom nie - die Blombos argeologiese museum in die gebou wat die inligtingsentrum by palinggat huisves, bestaan immers reeds," het Gustaf Radloff tydens die vergadering gesê.
Die oogmerk is om die bestaande museum aansienlik uit te brei en in hierdie verband is al heelwat aanvoorwerk gedoen.
Dr. Chris Heese skakel reeds met die Wes-Kaapse provinsiale regering om te verseker dat Stilbaai een van die belangrike besoekpunte sal wees in die beoogde argeologiese roete wat nou van owerheidsweë gedryf word.
"Ek is vol moed, want die span wat die projek dryf is 'n voortreflike span wat nie alleen vasbeslote is nie, maar inderdaad in staat is om die ding reg te doen.
Die bemarkingsmateriaal nader voltooiing, so ook die sogenaamde 'Public Benefit Organisation' wat donateurs geregtig sal maak op belastingkortings."
Die trust wat reeds by die kantoor van die Meester van die Hoë Hof in Kaapstad ingedien is, sal bekend staan as die Blombos Argeologiese en Fynbos Trust.
Die inligtingsentrum gaan baie tyd en energie verg. Deskundiges soos professors Richard Cowling, Marean Curtiss, Mike de Jongh, asook dr. Renee Rust het hulself bereid verklaar om behulpsaam te wees.
"Ons skakel ook nou met die munisipaliteit en ander organisasies en gemeenskappe om te verseker dat ons die regte besluite neem.
"Ons is dankbaar oor die munisipaliteit se positiewe houding en die raad se bereidwilligheid om ons in staat te stel om die gewenste perseel te bekom."
Stilbaai-belangeforum se boomprojek
Die belangeforum het tydens die algemene jaarvergadering van2013 besluit om Stilbaai die skoonste en groenste dorp in Suid-Afrika te help maak.
'n Paar inisiatiewe is van stapel gestuur, waarvan die belangrikste die aanplant van soveel inheemse bome as moontlik was.
Hande is met die munisipaliteit gevat en daar is besluit dat die lede die bome verskaf en die munisipaliteit sal die water aanlê.
Bykans ses oop munisipale spasies wat vir parke geoormerk is, is al beplant en by vier daarvan is water al aangelê.
Die organisasie het besluit om nie slegs bome vir Stilbaai beskikbaar gestel nie, maar ook aan die ander dorpe in die Hessequa-streek.
Die afgelope twee jaar is altesaam 4 000 boompies geplant en beskikbaar gestel vir aanplanting.
Die bedoeling is om met hierdie inisiatief onbepaald voort te gaan en om die munisipaliteit te help om die toekenning as die groenste dorp in Suid-Afrika te verwerf.
Die hoofoorweging bly egter om ter wille van die gemeenskap en besoekers die dorp nog mooier en groener te maak.
Radloff het met die volgende woorde afgesluit: "Stilbaai is 'n besondere, 'n spesiale, 'n unieke dorp. Ons durf nie op ons louere rus nie.
"Om te verseker dat hierdie dorp 'n besondere, spesiale en unieke dorp bly, moet ons besondere, spesiale en unieke dinge doen.
"Kom ons bou voort aan hierdie wonderlike tuin, kom ons vergroen ons omgewing en plant en versorg soveel moontlik mooi inheemse bome en kom ons ondersteun en help waar ons kan om die beoogde inligtingsentrum 'n werklikheid te maak."
Lees 'n vorige artikel: Argeologiese inligtingsentrum 'n werklikheid
ARTIKEL: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'