Update
SWELLENDAM NUUS - Virgil Pretorius van Heidelberg wat verlede week skuldig bevind is vir die moord op sy voormalige meisie, Candice Alberts, is vir lewenslank tronk toe gestuur.
Pretorius is Donderdagmiddag 14 Junie in die rondgaande hooggeregshof op Swellendam ook tot agt maande gevangenisstraf op aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer, gevonnis. Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te hanteer of te besit.
Die oudkonstabel is Maandag 11 Junie op Alberts se verjaarsdag skuldig bevind op die twee aanklagte. Sy vonnisse sal nie gelyklopend uitgedien word nie. Terwyl regter Robert Henney die vonnisoplegging voorgelees het, het Pretorius skynbaar emosieloos kop onderstebo gestaan.
Beide die staat en die verdediging het hul slotbetoë Dinsdag afgesluit waarin die verdediging die hof gevra het om die beskuldigde genadig te wees en 'n straf van tussen 18 en 20 jaar toe te pas. Die staat aan die anderkant het vir die maksimum straf van lewenslank vir die moord gevra.
Die Alberts-ouerpaar, pastoor Tommy en sy vrou, Cathy, asook Pretorius se ma, Dina en sy oudste broer was teenwoordig. Die hof was stampvol met inwoners van Slangrivier en Heidelberg. Dit is ook deur Jennifer Hartnick en Lisby Pieterse, twee plaaslike raadslede van Hessequa-munisipaliteit bygewoon.
Henney het gesê dat Pretorius 'n algehele verontagsaming toon teenoor menslike verhoudings en meer spesifiek die verhoudings met die vrouens met wie hy 'n romantiese verhouding aangegaan het. "Jy is 'n gevaar vir die samelewing en veral vir vroue, daarom moet jy lank weggebêre word. Jy heg geen waarde aan mense se lewens nie."
Die oorledene, Candice Alberts.
Volgens Henney het adv. Nick du Toit vir die verdediging herhaaldelik na Pretorius se berou verwys, maar dat hy (Henney), nie anders kan as om met die staat, adv. Kreban Pillay, saam te stem dat Pretorius geensins enige berou getoon het nie. "Jy is eerder spyt dat jy uitgevang is."
Cathy Alberts is erg bewoë terwyl sy met Candice Alberts se foto staan tydens haar getuienis terverswaring in die saak. Foto's: Clive Pretorius, korrespondent
Die vonnisoplegging is voorafgegaan met die staat se versoek dat Alberts se 14-jarige seun se brief ter verswaring van vonnis deur sy ouma, Cathy, aan die regter voorgelees word. Henney het egter gevra dat die brief aan hom oorhandig moet word, omdat sy te bewoë was om dit te doen. In die brief wat Suid-Kaap Forum se korrespondent vroeër onder oë gehad het, vra hy dat Pretorius lewenslank moet kry en dat hy nie aan hulle kinders en familie gedink het toe hy hul moeder so wreed vermoor het nie. "Sy familie en sy kinders kan hom in die tronk gaan besoek, maar ons moet na 'n graf toe gaan."
Henney het die staat geloof vir hul goeie werk en die regspan bedank. Eric Estree, offisier verbonde aan die Onafhanklike Klagte Direktoraat (OKD)), asook haar ouers was tevrede met die vonnis. Pretorius se ma wou nie kommentaar lewer nie.
Die Alberts-egpaar, pastoor Tommy en sy vrou Cathy, buite die hof saam met Eric Estree van dieOKD en adv. Kreban Pillay, staataanklaer.
Lees vorige artikels:
- Moordenaar word gevonnis
- Pretorius skuldig aan 2 aanklagte
- Oud-Konstabel se moordverhoor begin
- Moordverhoor word uitgestel
- Moordsaak teen Virgil Pretorius uitgestel
- Moordsaak word weer uitgestel
- Moordsaak weer uitgestel
- Moordeverdagte weer in hof
- Moordebeskuldigde se borg geweier
- Vrou se lyk gevind: Borgaansoek uitgestel
'Ons bring jou die nuutste Swellendam, Hessequa nuus'