HEIDELBERG NUUS - Die saak teen die oudpolisielid Virgil Pretorius, van Slangrivier wat van moord op Candice Alberts beskuldig word, is Maandag 7 Augustus weer uitgestel tot 15 September vir die DNS-verslag.
Pretorius bly in aanhouding. Net soos met sy vorige hofverskynings was daar weer 'n groot opkoms vanuit die Heidelberg en Slangrivier-gemeenskappe.
Nagenoeg 120 mense, waaronder Dennis Joseph, DA LPP vir Hessequa en Denise Robinson, DA LP en skaduminister vir vroue en kindersake, het van vroegoggend buite die hof saamgedrom.
Die slagoffer se ouers, past. Tommy en sy vrou, Cathy Alberts, asook Pretorius se ma, Dina, en sy suster het weer die hofverrigtinge bygewoon. 'n Fakkel is deur Alberts se ma as herdenking vir Vrouemaand aangesteek.
'n Groep van ongeveer 30 het aan 'n optog vanaf die Duivenhoksrivier-gemeenskapsaal deelgeneem, met plakkate wat slagspreuke soos 'Stop geweld teen vroue, Vroueslaners is papbroeke, SAPD moet ondersoek word' en 'Genoeg is genoeg' ingesluit het.
Daar is weer slegs 50 persone tot die hofverrigtinge toegelaat.
'n Memorandum is deur die inwoners aan kol. Una Saayman van Da Gamaskop oorhandig, waarin hulle onder andere verwys na hul vorige memorandums wat vergaderings met verskeie senior offisiere toegestaan is, maar geen veranderings aangebring is nie.
Verder dring hulle daarop aan dat die beweerde moordtoneel, Renosterfontein en Weideland waar verskeie artikels gevind is, behoorlik ondersoek moet word omdat hulle tekortkominge met die ondersoek vermoed.
Die ontevredenes eis dat daar binne 14 werksdae positiewe terugvoering aan hulle verskaf word.
Die memorandum is deur Saayman, Rosaline Jansen en Sadie Botha, twee organiseerders van die optog, geteken.
Lees 'n vorige artikel hier: Moordsaak weer uitgestel
ARTIKEL & FOTO: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'