Update
HEIDELBERG NUUS - Die verhoor van Virgil Pretorius (32), wat van die moord op Candice Alberts (33), 'n ma van sy twee jaar oue babaseun, aangekla word het Maandag 4 Junie in die rondgaande hooggeregshof op Swellendam begin.
Hy het laas op 20 April in 'n voorverhoor in Kaapstad verskyn, presies 'n jaar na die moord. Alberts se lyk is die Saterdagoggend 22 April 2017, sowat 1,5 km vanaf die R322 (Witsand-pad) by die Renosterfontein-afdraai, onder bosse gevind. Sy is glo met 'n elektriese draad verwurg en verskeie kere met 'n skerp voorwerp gesteek.
Die aanklagte teen Pretorius is: 1. Aanranding met die doel om ernstig te beseer; 2. Aanranding gewoon; 3. Diefstal van R500 en 'n Samsung selfoon, en 4. Moord met voorbedagte rade.
Die slagoffer se ouers, pastoor Tommy en sy vrou Cathy Alberts, asook Pretorius se ma en 'n groot aantal inwoners van Slangrivier was Maandag en Dinsdag in die hof. Die saak is vir twee weke geskeduleer.
Die hofverrigtinge het Maandagmiddag eers 14:00 begin nadat adv. Nick du Toit vir die verdediging aangedui het dat hy instruksies gekry het om 'n pleitverduideliking aan die hof voor te lees.
Pretorius ontken skuld op aanklag 2 en 3, pleit skuldig op aanklag 1, asook op aanklag 4, maar ontken dat hy die moord beplan het. Dit het glo op die ingewing van die oomblik gebeur toe sy (Candice) erken het dat sy met ene "Rico" gesels het.
Die staat het Maandag drie getuies geroep, naamlik haar ouers en ao. Alroy Windvogel. Haar ma moes herhaaldelik kalmeer word toe sy van haar dogter se stormagtige verhouding met die beskuldigde vertel het.
Die hof het Dinsdag 'n ter plaatse ondersoek op die toneel waar die liggaam onder bosse gevind is, gedoen. Hulle het ook haar werksplek, Pili Pili-restaurant op Witsand besoek.
Daarna het ao. Andries Olivier, voormalige kollega van die beskuldigde, maar nou verbonde aan die eenheid vir geweld teen vroue en kinders, sy getuienis gelewer. Die patoloog, asook een van die slagoffer se bestuurders, het Woensdag 6 Junie getuienis gelewer.
Die saak dien voor regter Robert Henney en adv. Kreban Pillay is die aanklaer. Pretorius bly in aanhouding in die Buffeljagsrivier-gevangenis.
’n Ter plaatse ondersoek. Foto’s: Clive Pretorius, korrespondent
Ondersteuners van die Alberts-egpaar, ouers van die vermoorde Candice Alberts staan voor die hof in Swellendam. Past. Tommy (gestreepte trui) en sy vrou, Cathy (in die pers trui) voor.
Lees vorige artikels:
- Moordverhoor word uitgestel
- Moordsaak teen Virgil Pretorius uitgestel
- Moordsaak word weer uitgestel
- Moordsaak weer uitgestel
- Moordeverdagte weer in hof
- Moordebeskuldigde se borg geweier
- Vrou se lyk gevind: Borgaansoek uitgestel
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'