Update
STILBAAI NUUS - Na die aankondiging dat prosesse van stapel gestuur is dat die Preekstoel-karavaanpark op Stilbaai in die proses is om in 'n Covid-19- isolasieperseel omskep te word, is dié sentrum op Maandag, 1 Februarie amptelik geopen.
Die Wes-Kaapse departement gesondheid se woordvoerder, Maret Lesch het in die beplanningsfase gesê 28 van die karavaanpark se wooneenhede sal gebruik word om mense onder isolasie en kwarantyn te huisves.
Nadia Ferreira, senior woordvoerder vir die departement het Maandag aangekondig dat die sentrum nou amptelik geopen is, met drie verpleegpersoneel wat op die terrein sal woon.
'"As 'n persoon nie tuis kan isoleer nie, sal die gesondheidspan hulle na die isolasiefasiliteit verwys waar hulle tydelike sorg weg van huis sal ontvang. Vervoer na en van die fasiliteit sal verskaf word, asook maaltye."
Ferreira het voornemende pasiënte aangeraai om hul waardevolle besittings by die huis te los. "Pak jou klere en slaapklere in, jou chroniese medikasie, selfoon en laaier, toiletware, handdoek en waslap. Jy is vry om ook jou gunstelingkombers, foto, boeke of tydskrifte, asook peuselhappies of lekkernye saam te bring."
Ferreira sê pasiënte sal in 'n kamer geplaas word en toegang hê tot 'n badkamer. Hulle moet hul eie kamers skoon maak, terwyl klerewasdienste en vullisverwydering verskaf sal word.
"Daar sal 'n paar reëls wees, byvoorbeeld dat jy heeltyd in jou kamer moet bly. Geen besoekers, asook geen drank of dwelms word toegelaat nie."
Met die opening was daar nog geen pasiënte nie.
Enkele dae voor Preekstoel-karavaanpark Maandag, 1 Februarie as 'n Covid-19-isolasiesentrum oopgemaak het was daar geen teken van lewe nie.
Vorige artikel: Isolasiesentrum aptelik in gebruik
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'