Update
STILBAAI NUUS - 'n Perseel waar Covid-19 pasiënte onder isolasie en kwarantyn geplaas gaan word, sal eersdaags in Stilbaai operasioneel wees.
Die Wes-Kaapse regering se departement van vervoer en openbare werke het die Preekstoel-karavaanpark as 'n geskikte perseel geïdentifiseer.
Met die vergunning van die Hessequa-munisipaliteit is die karavaanpark beskikbaar gestel vir die broodnodige doel, waar die Hessequa-streek se aantal positiewe gevalle Maandag, 11 Januarie op 1 541 gestaan het, met 166 aktief. Van hierdie geval toon Riversdal (soos op Maandag, 11 Januarie) 620 positiewe gevalle, met 55 aktief.
Die departement gesondheid het dadelik ingespring en voorbereidings begin tref om die karavaanpark se wooneenhede in 'n isolasie en kwarantynsentrum te omskep.
Maret Lesch, woordvoerder van die departement gesondheid het verduidelik dat hoewel die terrein in totaal 130 beddens bied in chalets en slaapsale, sal slegs 28 eenhede funskioneel wees sodat pasiënte weg van mekaar kan isoleer en onder kwarantyn geplaas word.
"Daar sal verpleegpersoneel by die sentrum werksaam wees en woon," het Lesch gesê.
Ten opsigte van die keuring om toelating tot die sentrum sê Lesch die standaardbeleid sal gevolg word. "Pasiënte wat met Covid-19 gediagnoseer is en mense wat in nabye kontak was met van iemand wat met die virus gediagnoseer is, maar nie by die huis kan kwarantyn nie, sal in die sentrum geakkomodeer word," het Lesch gesê.
"Hierdie is 'n isolasiefasiliteit en nie 'n hospitaal nie, daarom sal slegs mense met ligte simptome of gesonde mense, in kwarantyn hier gehuisves word," het sy verduidelik.
Lesch sê die departement is in die proses om die nodige personeel aan te stel en die isolasiefasiliteit sal funksioneel wees sodra hierdie proses afgehandel is.
Jandré Bakker, woordvoerder vir die departement vervoer en openbare werke het gesê die sentrum behoort teen Maandag, 18 Januarie operasioneel te wees.
Vorige artikel: Preekstoel eersdaags 'n isolasie perseel
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'