Update
STILBAAI NUUS - Twee inbrekers het hul Moses teëgekom toe hulle by 'n juwelierswinkel ingebreek het.
Die inbrekers wat Sondagoggend 10 Desember by Susan Roos Juweliers ingebreek het, is op heterdaad betrap na die vinnige optrede van Coastal Security en Stilbaai-polisie.
Die mans, wat albei Mosambiekse burgers is en wat vroeër in die week in die winkel was, het ongeveer 01:00 die alarm geaktiveer, waarna die sekerheidsmaatskappy vinnig gereageer en die perseel buite nagegaan het.
Dit het voorgekom of alles in orde was, maar om 02:00 het die alarm weer afgegaan.
Roos kon op haar selfoon sien dat die mans in haar winkel is, aangesien die kameras aan haar foon gekoppel is.
Die sekerheidsmaatskappy, polisie en die sleutelhouer van die perseel het dadelik gereageer.
By die winkel het die twee inbrekers deur die dak vanwaar hul toegang verkry het, probeer ontvlug.
Twee waarskuwingskote is afgevuur, waarna een verdagte homself dadelik oorgegee het terwyl die ander van die dak afgespring en in die proses sy been beseer het.
Die dak waar toegang verkry was.
Albei is op die toneel gearresteer en die juweliersware, asook 'n skootrekenaar is teruggevind.
Volgens die stasiebevelvoerder, kapt. Johan van Tonder het albei handskoene aangehad terwyl 'n veeldoelgereedskapstuk, asook skroewedraaiers in hul besit gevind is.
Die vermoede bestaan dat hulle in die plafon weggekruip het toe hulle die alarm die eerste keer geknip en gewag het dat die sekerheidslede die toneel verlaat.
Hulle het egter nie die hele veiligheidstelsel omseil nie.
Die verdagtes het Dinsdag 12 Desember in die hof op Riversdal verskyn.
Een verdagte is tans onder polisiebewaking in die hospitaal. Sy knie is verguis en sy been is op twee plekke gebreek.
Van Tonder meen dat hierdie arrestasie moontlik 'n groot slag kan wees wat die polisie geslaan het, aangesien George-polisie meer as 16 soortgelyke inbrake ondersoek.
Hy het die plaaslike lede, sowel as die sekerheidsmaatskappy vir hul flink optrede geloof.
Lees 'n verwante artikel: Polisie trap inbrekers vas
ARTIKEL & FOTO'S: ELZA THIART-BOTES, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'