Update
STILBAAI NUUS - 'n Botsing tussen twee vragskepe in Durban se hawe tydens 'n storm in 2017, het veroorsaak dat 49 ton plastiekballetjies, bekend as nurdles in die see beland het.
Hierdie miljoene balletjies het oor 2 000km versprei en die see besoedel vanaf Mosambiek tot by Kaapstad. Anders as olie, breek dit nooit op en vergaan nie en sal dit altyd iewers dryf of lê.
Dit word as 'n ekologiese ramp beskou en bedreig mariene, sowel as voëllewe. Visse en voëls sien dit as kos en eet dit. Daarom is dit uiters belangrik dat hierdie balletjies gevind en verwyder word.
Stilbaai het hierdie ramp nie vrygespring nie en die maatskappy Spilltech is gekontrakteer om die taak te verrig. Hulle gebruik 36 mense as tydelike werkers, wat almal van Melkhoutfontein afkomstig is.
Volgens Delbirth November van Spilltech het hulle die groep opgelei en hulle gebruik dieselfde mense as hulle hier werk. Die groep is verantwoordelik vir Jongensfontein, Skulpiesbaai, Lappiesbaai en Preekstoel en spandeer twee dae op elke strand.
Die groep sit plat op die grond en woel deur elke stukkie van die droë sand, skep dit in mandjies en vat dit vir 'n ander groepie om te sorteer. Die balletjies word dan verpak en na die kliënt teruggestuur.
Hierdie lyk na 'n onbegonne taak, maar dis iets wat moet gedoen word en sal voortgaan solank as moontlik. Dit is egter ook 'n broodnodige werkskeppings-geleentheid en bring geld na die omgewing.
Die groep sit plat op die grond en woel deur elke stukkie van die droë sand.
Vorige artikel: Plastiekballetjies steeds 'n kopseer
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'