Gallery Update
RIVERSDAL NUUS - Met beplanning en 'n bietjie moeite kan jy self jou eie gesonde groente kweek.
Dit hou vele voordele in - dis gesonder want jy weet wat jy in die grond sit, dis goedkoper as winkelgroente en jy betaal nie vir verpakkingsmateriaal nie, dis ontspannend om in die grond te vroetel en dis iets wat die hele gesin saam kan doen.
Vyf faktore moet in ag geneem word:
Kompos:
Jy kan nou al begin kompos maak. Kies 'n sonnige hoek in jou tuin waar jy lae bruin en groen plantmateriaal op 'n hoop kan gooi. Voeg kraal- of hoendermis by en hou dit nat, maar nie deurweek nie. Plante wat in verrykte grond groei, is beter teen siektes en plae bestand.
Grondvoorbereiding:
Kies die regte plek vir jou tuin. Die oppervlak hoef nie groot te wees nie, maar dit moet verkieslik heeldag vol son kry. Maak voorsiening vir wisselbou, want jy kan nie vir meer as een seisoen dieselfde groente op dieselfde plek plant nie. As jou tuin te klein is, kan jy 'n verskeidenheid plante uit die verskillende groepe saam plant, wat sal keer dat spesifieke voedingstowwe in die grond uitgeput raak. Maak ook seker die grond se suurgraad is neutraal (7).
Plantjies en metgeselplante:
Kies groente wat by jou behoeftes, die klimaat en grond pas. Plant bietjies-bietjies van verskillende variëteite om heeljaar te kan oes. As jy jong groente oes, sal die plant langer aanhou dra. Plant vanggewasse - laergroeiende groenteplante soos wortels, knolle en slaaigroente - onder hoër variëteite. Metgeselplante is die soorte groente wat goed saam aard - aartappels en tamaties benadeel mekaar, terwyl tamaties, kopkool, beet, wortels en pietersielie lekker maats is.
Plaag- en onkruidbeheer:
Talle nuwe groente- en vrugtevariëteite word gekweek om siekte- en plaagbestand te wees, maar al wat regtig werk is die tuinier se oog - vang daai gogga of swam en behandel dadelik. Metgeselplante is ook nuttig om peste te beheer - dwerg-afrikaners en gousblomme beskerm blaarslaai, tamaties, uie en ander groente. Grasuie, knoffel en dille weer plantluise af. Gebruik chemiese spuitmiddels oordeelkundig en ook net as jy nie anders kan nie. Organiese spuitmiddels wat jy met plante uit jou eie tuin kan maak, is die beste want dit benadeel nie nuttige insekte nie.
Water:
Eetbare plante het gereeld water nodig. Dis die beste om die plante op wortelvlak nat te maak sodat die blare droog bly en voorkom dat swam- en meeldousiektes daarop groei. Dis wys om in 'n watertenk te belê en om 'n outomatiese besproeiingstelsel aan te lê.
Bron: Enigeen kan groente kweek, Diana Anthony
Lees 'n vorige artikel hier: Kweek jou eie groente
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'