Gallery Video
RIVERSDAL NUUS - Hoewel die dorpie in die hartjie van die Hessequa-streek nie self 'n optog gereël het nie, het 'n groot groep boere, besigheidspersone en inwoners na Hartenbos gereis om die Swart Maandag-optog te ondersteun om bewusmaking oor veral moord op boere, maar ook alle ander moorde te skep.
Emile de Villiers, plaaslike sakeman was ook daar en volgens hom was dit 'n ongelooflike ondervinding.
"Swart, bruin en wit het saam gebid vir vrede in ons land en alles het vreedsaam afgeloop," vertel hy.
Hy het beklemtoon dat dit geensins oor politiek gegaan het nie, maar oor die hoë moord- en verkragtingsyfer in ons land onder alle rasse.
Twee motorfietse en 12 voertuie het vanaf Riversdal in gelid gery en om 10:30 by Cooper-veilingskrale by amper 'n honderd bakkies, trekkers en vragmotors aangesluit.
Die konvooi het saam na Hartenbos gery en die verkeer op die N2 het verskeie kere heeltemal tot stilstand gekom.
Meer as 'n duisend mense het by die laerskool vir die verrigtinge vergader.
Kyk 'n video hieronder:
Die onderburgemeester van Mosselbaai, Dirk Kotzé, het tydens die geleentheid gesê dat die munisipaliteit hul volle ondersteuning gee, finansieel en wat goedgesindheid betref.
Hy het beloof dat plase op 'n gereelde grondslag gepatrolleer sal word.
Op sosiale media het dit behoorlik gegons en die optog is op verskeie webtuistes en Facebook bespreek, met die oorgrote deelnemers aan gesprekke wat positief gereageer het.
Honderde bakkies en trekkers het deel uitgemaak van die optog.
Op die Landbou Weekblad se webwerf het meer as 20 000 mense regoor die wêreld, onder meer Nieu-Seeland, VSA, Brisbane, Rusland, Australië, Abu Dhabi, Nederland, Skotland, Duitsland, Texas, maar ook regoor Suid-Afrika kommentaar gelewer en hul ondersteuning gegee.
Suid-Kaap Forum het op ons eie Facebook-blad die vraag gestel of die optog wel die nodige bewusmaking sal skep en het ook 'n groot reaksie daarop gekry.
Swart, bruin en wit het hande gevat in gebed.
Weereens was meeste kommentare positief, met slegs 'n paar persone wat dit aan politiek koppel.
Lees 'n vorige artikel: Optog verloop vreedsaam
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'