Update
SWELLENDAM NUUS - Sitrusboere in die omgewing het onderneem om ten minste 100 ton sitrusvrugte aan huishoudings te skenk.
Die vrugte word gewoonlik uitgevoer, maar weens Covid-19 is talle internasionale hawens gesluit en uitvoere gestaak.
Die boere het besluit om sowat 30 ton sitrus per week vir die duur van die inperkingstyd aan die munisipaliteit te skenk.
Uitvoerende burgemeester Nicholas Myburgh, het met die aanvang van die tydperk 'n beroep op inwoners gedoen om skenkings te maak vir haweloses en mense wat in dié tyd nie 'n inkomste het nie.
Die nie-regeringsorganisasie Community Action Partnership, gebruik die skenkings om kospakkies vir die verspreiding aan gesinne in die laer inkomstegroep op te maak. Die skenkings word deur die munisipaliteit geadministreer. Die eerste van hierdie vrugte en kospakkies is op Donderdag 2 April aan behoeftige inwoners in die streek uitgedeel.
Myburgh het die boere vir die skenking bedank. "Sitrus is 'n uitstekende bron van vitamien C en kan 'n waardevolle bydrae lewer om die gemeenskap se immuniteit voor die winter te versterk."
Hy het die versekering gegee dat die wonderlike geskenk regverdig en in ooreenstemming met die inperkingsmaatreëls uitgedeel sal word.
Ander landbou-instansies het ook onderneem om bydraes te maak.
Vorige artikel: Swellendam-inwoners kry vitamiene
'Ons bring jou die nuutste Swellendam, Hessequa nuus'