Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Moos Louw en Jasmine September, wie se verhaal letterlik duisende mense se harte geraak het, het Dinsdag 25 September 'n splinternuwe fiets ontvang.
Graham Hechter van België was so deur die paartjie se verhaal geraak, dat hy nie omgegee het wat die koste van 'n fiets vir hulle sou wees nie.
Hechter het jare gelede op Worcester gebly en het kontak met Arno en Irene du Toit van dié dorp gemaak om uit te vind hoe om te werk te gaan om dit te bewerkstellig.
Hy en Arno was saam op skool en destyds lede van die Lions-klub. Die Du Toits het op hul beurt hul vriend op Riversdal, Cobus Kloppers genader, wat die goeie nuus aan Suid-Kaap Forum oorgedra het.
Moos en Jasmine moes nie onraad vermoed nie en is net verlangs uitgevra oor watter soort fiets hulle graag sou wou hê, ingeval dit eendag 'n werklikheid sou word. Moos was baie beskeie en het gesê solank dit net 'n 'back paddle' is, sal hy glad nie omgee nie. Hy was baie opgewonde omdat ander weldoeners na vore gekom het met onder meer 'n nuwe saal vir sy fiets, modderskerms, 'n ordentlike slot, toeter (nie klokkie nie) en kettingolie.
Kyk 'n video hieronder:
Intussen het die koerant en Kloppers dadelik aan die werk gespring. Jacksons Motoronderdele, wat ook fietse en -benodigdhede verkoop, is genader en die verlangde fiets is bestel. Moos en Jasmine is gevra om Dinsdag na die koerantkantoor te kom om die saal en ander goed te kom afhaal, en was dus baie verras toe 'n pragtige rooi-en-wit fiets hulle inwag.
Van die skenkers wat hul harte en beursies oopgemaak het en die items reeds ontvang is, is Adéle van Jaarsveld van Hartenbos, Chris van Schalkwyk (jnr.) en CCC Traders, beide van Riversdal. Ander weldoeners wat hulself ook tot skenkings verbind het, is Elsché Eygelaar van Kaapstad en Retha van Zyl van Oos-Londen.
Die paartjie is in hul skik met die items wat weldoeners geskenk het om sy ou fiets reg te maak.
Diegene wat die vorige berigte dalk gemis het kan ons webtuiste besoek, maar in kort gaan dit oor die 52-jarige Moos wat sy saamleefmaat met sy fiets werk toe neem, al die pad terugry na die plaas waar hy werk en haar smiddae weer gaan haal. Die plaas is ongeveer 15 kilometer buite Riversdal en met heelwat steil opdraandes, dikwels ongure weersomstandighede, 'n fiets sonder ratte en stukkende saal, is dit werklik nie 'n maklike taak nie - en wanneer die fiets stukkend is, loop hy saam met haar...
Enige navrae kan aan die redakteur by 028 713 2468 gerig word.
Jasmine September en Moos Louw staan by sy ou fiets.
Lees vorige artikels hier:
- Moos en Jasmine kry hulp uit alle oorde
- Moos en Jasmine raak harte aan
- Liefde is... om jou vrou op 'n fiets werk toe te ry
- Liefde is om fiets te trap vir jou vrou
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'