Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Nadat die berig oor Moos Louw en Jasmine September verlede week in Suid-Kaap Forum, maar ook op ons webtuiste en Facebook-blad met 'n bygaande video verskyn het, het verskeie weldoeners na vore gekom.
Barmhartige samaritane wat hulself tot skenkings verbind het en waarskynlik in die volgende week of twee sal realiseer, is Elsché Eygelaar van Kaapstad, Retha van Zyl van Oos-Londen en CCC Traders van Riversdal met onderskeidelik twee fietsvalhelms en glimbaadjies (Elsché), alles wat benodig word om 'n pap wiel te herstel, asook twee binnebande en reënbaadjies (Retha) en 'n nuwe saal (CCC Traders).
'n Moontlikheid bestaan ook dat die paartjie dalk 'n nuwe fiets gaan kry, maar dit is nog nie bevestig nie.
Diegene wat die vorige berig dalk gemis het kan ons webtuiste besoek, maar in kort gaan dit oor die 52-jarige Moos wat sy saamleefmaat met sy fiets werk toe
neem, al die pad na die plaas waar hy werk terugry en haar smiddae weer gaan haal. Die plaas is ongeveer 15 kilometer buite Riversdal en met heelwat steil opdraandes, dikwels ongure weersomstandighede, 'n fiets sonder ratte en stukkende saal, is dit werklik nie 'n maklike taak nie.
Enige navrae kan aan die redakteur by 028 713 2468 gerig word.
Kyk 'n video hieronder:
Lees vorige artikels hier:
- Moos en Jasmine raak harte aan
- Liefde is... om jou vrou op 'n fiets werk toe te ry
- Liefde is om fiets te trap vir jou vrou
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'