Gallery Update
WITSAND NUUS - 'n Kinderpartytjie vir grootmense word in Augustus gehou om 'n nuwe kindersorgeenheid op Heidelberg bekend te stel.
Die doel met die eenheid is om 'n tuiste te skep vir kinders wat wees gelaat is.
"Ons wil graag die gemeenskap betrokke kry om 'n knus tuiste vir kinders wat nie andersins 'n tuiste sou gehad het nie, te skep," sê Corrie van der Westhuizen. Hy en sy vrou Antoinette, het in Junie vanjaar 'n 'blanket run' gereël om komberse vir bejaardes in te samel.
Die sorgeenheid is 'n gesamentlike projek van die Helpende Hand-motorfietsklub en Langeberg Christian Fellowship. Vir die doel is daar reeds 'n deposito vir De Heidel-gastehuis, wat in 'n tuiste vir ten minste 35 kinders omskep kan word, betaal. "Ons glo ons sal teen die einde van die jaar die nodige fondse hê."
Die hoofhuis beskik oor drie slaapkamers met en suite badkamers op die grondvloer en vier kleiner kamers op die boonste vloer. Die boonste kamers maak van 'n groot badkamer op die grondvloer gebruik. Daar is ook 'n sitkamer, oopplan gesinskamer, eetkamer en afsonderlike kombuis.
Die kothuis langsaan het twee slaapkamers op die boonste vloer, asook 'n kombuis, oopplan-leefruimte en 'n studeerhoekie. Daar is 'n volledige badkamer met 'n bad, stort en toilet. Die eenheid het 'n afsonderlike ingang en sal vir huisouers wat op die perseel kan woon, geskik wees.
Die erf is sowat 2 600m² groot en daar is leiwater waarmee groente vir eie gebruik verbou kan word.
Belangstellendes wat die bekendstellingsfunksie op 17 Augustus om 18:30 by die Port-Beaufort/Witsand-rolbalklub wil bywoon, word genooi om soos kinders aan te trek.
Daar sal lekker pryse vir die oorspronklikste uitrustings wees.
Die toegangsfooi is R100 wat 'n kerriepot en 'n dop van die gewilde R&R-drankie wat sy oorsprong in Mosambiek het, insluit.
Kontak Corrie van der Westhuizen by 082 419 1770 of mos@absamail.co.za
Lees 'n vorige artikel hier: Knus nuwe tuiste vir wesies beplan
'Ons bring jou die nuutste Witsand, Hessequa nuus'