RIVERSDALNUUS - Nog 'n boer wat ontevrede is met die munisipaliteit se vullisverwyderingstelsel, het sy griewe gelug.
Suid-Kaap Forum het in 'n berig (25 April: Vullisverwydering grief grondeienaars) uiteengesit hoe vullisverwydering werk en hoe die munisipaliteit die voorneme om dit teen 'n heffing in landelike gebiede te doen, gekommunikeer het.
"Ons boer in die Albertinia-distrik en daar is geen vullishouers nie," skryf Willem Oosthuizen na aanleiding van die artikel.
"As ek dit reg verstaan, is daar ook niks uit na Gouritsmond se gebied nie. Ons betaal daai tarief vir geen diens nie. Ons kry ook geen vullissakke nie en as ons by die munisipaliteit kom, moet ons dit boonop koop, bygesê as hulle ooit voorraad het."
Volgens hom het die munisipaliteit aanbeveel dat hulle die vullis by die vullisgate moet aflaai. "Die tyd wat ons dorp toe gaan om die werkers af te laai, is die gate toe en dan wil ek nie begin oor die veiligheidsaspek nie."
Kobus van der Vyver, 'n suiwelboer sowat 1,8 km vanaf die Ladismithpad langs die Vetterivierpad, is ook ongelukkig. "Ek is 76 jaar oud en beweeg moeilik. Dit is vir my uiters ongerieflik om die vullis van die plaas- en arbeidershuise na die vullishouer by die T-aansluiting met die Ladismithpad te neem.
Dit is ook onmoontlik om die plaasvullis soontoe te neem, want dit is net te veel. En wat moet ek maak as 'n bees vrek? Moet ek dit ook in die kas laat gooi? Die afgelope 350 jaar wat my familie in die omgewing boer het ons die karkasse begrawe of verbrand."
By navraag het Harold Basson, direkteur: tegniese dienste, die volgende inligting verskaf in antwoord op bogenoemde klagte:
- By Gouritsmond is 'n massahouer op die kuspad by Gourikwa se hek en by die stortingsterrein.
- In Albertinia is 'n vibracrete-hok by die ingang van die stortingsterrein wat gebruik kan word, al is die stortingsterrein se hek gesluit.
- Vullis in swart sakke kan op sypaadjies in die dorp, of, verkieslik tydens kantoorure, by stortingsterreine in Albertinia en Gouritsmond afgelaai word. Daar is hekwagte gedurende kantoorure en die terrein is dus wel veilig.
- Niemand ontvang gratis plastieksakke vir huishoudelike- of besigheidsvullis nie, maar Henque Waste deel kleurlose sakke vir herwinbare materiaal in al die dorpe uit.
- Geen vullis mag begrawe of verbrand word nie.
•Hiermee sluit ons beriggewing oor die onderwerp af. Enige verdere navrae of besware kan aan Hessequa-munisipaliteit gerig word.
Skakel hulle by 028 713 8000.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'