Update Video
ALBERTINIA NUUS EN VIDEO - Ten spyte van baie moeilike omstandighede, het Benice Havenga, graad 12-leerder van Hoërskool Albertinia nie toegelaat dat dit haar onderkry nie en is sy eerste onder die top 10.
Buiten die Covid-19-pandemie en al die stres wat daarmee gepaardgaan, het Benice se ma boonop ook verlede jaar haar stryd teen kanker verloor.
"Dit was baie traumaties en hoewel dit vir my baie moeilik was, het ek met die bystand en ondersteuning van my familie deurgedruk en kon ek graad 11 voltooi," het sy gesê.
"Ek was baie lief vir my ma en is nog steeds. As dit nie vir die mense naaste aan my was nie, weet ek nie hoe ek sou uitgedraai of reageer het nie. En vir almal sê ek baie dankie. Maar ek is 'n vegter en ek sal bo uitkom."
Almal wat haar ken, sê haar naam pas absoluut by haar: "Be-nice", want sy is vriendelik met almal. Volgens haar onderwysers kom sy met almal oor die weg, sy is hardwerkend, haar werk is altyd netjies en sy het 'n positiewe ingesteldheid.
Kyk 'n video hieronder:
Benice se gunsteling vak op skool is biologie, maar op 'n vraag watter loopbaan sy eendag sou wil volg, is die verrassende antwoord om 'n prokureur te word.
"Maar ek sal ook daarvan hou om 'n persoonlike assistent te wees, of enige kantoorwerk sal ook vir my werk," het sy bygevoeg.
In hierdie baie belangrike en moeilike jaar is haar raad aan ander wat in dieselfde bootjie is om op jou werk te fokus. "Jy moet doelgerig bly en nie foute maak nie. Byt vas, al is dit moeilik met Covid-19. Ons maak vanjaar klaar en is amper daar. Maak nie saak wat jou omstandighede is nie, styg bo dit uit. Jy kan en jy gaan! Leer hard en gee jou beste. En moenie moed verloor en net opgee nie." Haar stokperdjie en om met alles te kan cope. "As jy ordentlik slaap, cope jy beter."
Vorige artikel: Toppresteerder bemoedig matrieks
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'