Update
STILBAAI NUUS - Na 25 jaar as bestuurder van dié kusdorp se toerismeburo het Hannetjie Ferguson nou die tuig neergelê.
Sy het kort na die buro in 1992 begin is deel van die span geword. As boorling van Stilbaai het sy 'n diep liefde vir die dorp en sy mense en ken baie spesiale plekke waarheen sy toeriste met haar innemende glimlag kon beduie.
Sy het baie lof vir die groot aantal nuwe intrekkers se bydraes tot die gemeenskap en reken dit het Stilbaai se karakter net beter gemaak.
Sy vertel hoe oorsese besoekers naderhand bekendes geword het omdat hulle altyd terugkom. Sy het ook deur die jare haar deel snaakse vrae gekry om te beantwoord, byvoorbeeld of die jong palings dan terug Stilbaai toe loop na hulle uit die eiers gekom het. Sy moes selfs vir iemand oor die telefoon verduidelik hoe om by een van die begraafplase se hek in te kom.
Die toerismeburo se leisels het in die bekwame hande van Annerise Wolmarans oorgegaan. Sy het 'n toerismekwalifikasie in Gauteng verwerf en twee jaar gelede na Stilbaai verhuis.
Met meer as nege jaar se ondervinding in die toerisme- en klantediensbedryf het sy haarself die afgelope maande in die buro se bestuur bewys as die aangewese persoon om die bestuurderspos oor te neem.
Een van haar doelwitte is om toerisme sodanig te bevorder dat dit inkomste regdeur die jaar sal verskaf en nie net in seisoentyd nie.
Hannetjie Ferguson.
Lees 'n vorige artikel hier: Verandering in Stilbaai Toerismeburo
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'