Gallery Update Video
ALBERTINIA NUUS EN VIDEO - Die Wes-Kaapse minister van landbou, dr Ivan Meyer het Dinsdag, 8 September Oker Primêre skool op Albertinia besoek as deel van 'n projek wat regoor die provinsie geloods word.
Oker het die eerste prys in die B-kategorie van die tuinboukompetisie ontvang wat gedurende Desember verlede jaar deur die departement van onderwys gedryf was.
Volgens Meyer is hy in sy skik met wat die skool met hul groentetuin verrig het. "Landbou kweek 'n ander karakter en 'n ander mens. Dit is iets wat die kinders besig hou en hulle nie kattekwaad aanvang nie," het hy gesê.
Die provinsie beskik oor slegs drie landbouskole, waarvan die Hoër Landbouskool Oakdale een is. Meyer was in gesprek met Debbie Schäfer, provinsiale minister van onderwys oor die moontlikheid van meer landbouskole, veral in die tyd van die Covid-19-pandemie. Intussen sou hy graag meer landbouvakke in skole wou sien soos landboutegnologie en landboubestuur.
Fotogalery: Minister Ivan Meyer besoek Albertinia
"Wanneer 'n kind rondloop, stout is of nie skool toe gaan nie, laat hom in 'n tuin werk dan sien jy 'n heel ander kind. Kinders swaai handomkeer as hulle eers in 'n tuin gewerk het, want dit is terapeuties. Hulle raak rustig en ontwikkel 'n nuwe belangstelling," glo Meyer. "Ons gaan ons uit armoede kry deur praktiese en tegniese opleiding, asook vakleerlingskappe. Dit is die nuwe fokus areas in die Wes-Kaap."
Kyk 'n video hieronder:
Meyer sal graag 'n tuinrevolusie wil sien deurdat almal in hul tuine groente plant. "Mens moenie wag dat die regering eendag help nie." Hy stel voor dat water hergebruik word, soos wat Oker doen. Die skool het die geute aan 'n tenk gekoppel om reënwater op te vang, waarmee die tuin natgemaak word.
Volgens Meyer het die landbousektor met 28% vanaf die eerste kwartaal gegroei. "In kleiner dorpe kan 'n mens die impak meer sien as in die stede. Ons wil graag 'n verandering in Suid-Afrika sien, maar daarvoor sal die gemeenskap en kinders moet saamstaan," het hy afgesluit.
Minister Ivan Meyer ontmoet al die betrokkenes by Oker Primêr se tuinbouprojek.
Die minister van landbou, dr Ivan Meyer wys dat hy die bang is om self in die grond te vroetel nie. Foto's: Mariska Visagie
Vorige artikel: Minister besoek Albertinia
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'