Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - Moses Michaels (92), bekende inwoner, oud-onderwyser, ledeprediker en gemeenskapsleier se lewensboek sluit finaal op Saterdag, 15 Januarie.
Moses, die tweede oudste van 12 kinders, is op 13 Junie 1928 uit die huwelik van Moses en Catherine Margaret Michaels op Riversdal gebore.
Na sy skoolopleiding bekwaam hy hom as onderwyser aan die destydse Zonnebloem-kollege.
Hy tree toe tot die onderwys in 1947 by Melkhoutfontein Primêre skool tot sy aftrede.
Hy dien vir 62 jaar as ledeprediker by die St Augustine kerk, asook op verskeie organisasies in die gemeenskap, waaronder 19 jaar op die Hessequa munisipale deerniskomitee, bestuurslid van Badisa Stilbaai en hy was ook lid van die vorige Melkhoutfontein dorpsraad.
Moses het 'n fondamentele rol gespeel met Soeterus op Melkhoutfontein en het ook op die bestuur van die oord gedien.
"Dit is met groot hartseer dat Melkhoutfontein van 'n legende afskeid neem wat die gemeenskap se belange op die hart gedra het," het Grant Riddles, uitvoerende burgemeester wat ook 'n familielid is, gesê.
Die begrafnisdiens vind Saterdag, 23 Januarie vanuit die St Augustine kerk om 12:00 plaas, waartydens Riddles ook 'n huldeblyk sal lewer.
Van die huldeblyke op sosiale media:
Alex Daneel
"Mnr Michaels was 'n wonderlike mens, geseën met 'n sin vir humor en het sy alles gegee vir die gemeenskappe van veral Melkhoufontein en Stilbaai! Rus in Vrede!"
Jerome Prins
"Ons verloor 'n groot staatmaker in diens van God en sy kerk. Sterkte en dankbaar vir sy familie wat hom toegelaat het om as lekebedienaar te dien. Ons innige meegevoel."
Tine-Mari Muir
"Kan nie Melkhoutfontein indink sonder mnr Michaels... en daai wye glimlag. Wat 'n groot verlies vir die gemeenskap. Was 'n voorreg om hom te ken, saam met hom te werk en op verskillende komitees te dien. Meegevoel aan die familie."
Petra Daneel
"Hy was werklik 'n groot gemeenskapsleier en 'n voorbeeld vir almal met sy wysheid, en altyd 'n kwinkslag daarby. Dit was werklik 'n voorreg om hom te ken en lank met hom saam te werk in die gemeenskap. Ons gaan jou mis, mnr Michaels. Ons dra die familie in ons gebede op aan ons Hemelse Vader. Hy laat 'n groot leemte!"
Denis Joseph
"Dis 'n groot verlies. Voorwaar 'n besondere geskiedenis waarna die Hessequa en Melkhoutfontein se gemeenskap kan terugkyk en dankie sê vir iemand soos wyle mnr Michaels wat die grondslag gelê het vir 'n beter toekoms. Mag sy siel in vrede rus."
Vorige artikel: Michaels se lewensboek sluit finaal
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'