Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Leerders van die Laerskool Volschenk het verlede week 12 BMX-fietse namens die skool ontvang.
Die fietse gaan gebruik word op die Vollie Pretpark wat beplan word. Volgens die hoof, mnr. Louis Lategan, gaan die fietse gebruik word op 'n fietsrybaan wat deel sal uitmaak van die pretpark.
"Ons beplan om in same-werking met 'n landskapsargitek 'n baan te ontwerp waar gr. 1- tot 3-leerders gedurende liggaamsopvoedingperiodes met dié fietse kan ry. Op die wyse word koördinasie en grootspiere ontwikkel."
Pedal Power Association (PPA) en die Bicycling Empowerment Network (BEN), wat kragte saamgesnoer het om bikes4all te skep, het die fietse geskenk. Cape Country Unplugged, wat sportgeleenthede beplan, het die skenking moontlik gemaak deur die betrokke rolspelers bymekaar te bring. PPA bevorder al meer as vier dekades lank fietsry en die belange van fietsryers, terwyl Ben sedert 2002 meer as 20 000 fietse aan mense regoor die land uitgedeel en meer as 5 000 mense geleer het om veilig fiets te ry. Cape Country Unplugged, wat sportgeleenthede reël en logistiek hanteer, het die verskillende partye bymekaar gebring.
Kyk 'n video hieronder:
"Dit is vir ons belangrik om kinders te laat fietsry," het Timothy Mosdell van BEN tydens die oorhandiging voor die skool op Dinsdag 18 Junie gesê. "Dit is om twee redes belangrik - eerstens sal hulle hopelik wanneer hulle groot is, steeds fietsry, wat nie net vir hul fisieke ontwikkeling goed is nie, maar dit is ook goed vir die omgewing."
Mosdell het benadruk dat veiligheid belangrik is. "Julle moet altyd 'n valhelm dra wanneer julle fietsry. Julle moet ook omsien na die fietse, en dis so maklik soos a, b, c in Engels: a staan vir air (sorg dat die bande gepomp is), b staan vir brakes (maak seker dat die remme werk), en c staan vir chain (maak seker die ketting is skoon).
Die groep leerders het Woensdag omstreeks 08:00 saam met die groep volwasse fietsryers van die Rusticana-gastehuis, waar die besoekers oornag het, vertrek en 'n paar kilometer saam met hulle gery.
Leerders van Laerskool Volschenk het Dinsdag 18 Junie 12 nuwe BMX-fietse namens die skool ontvang van bikes4all. Die fietse sal deel wees van die nuwe Vollie-projek. Foto: Tisha Steyn
Lees 'n vorige artikel hier: Leerders ontvang fietse vir projek
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'