Update
STILBAAI NUUS - Om slagoffers van traumatiese gebeure by te staan verg 'n praktiese aanslag.
Die traumakamer by dié dorp se polisiestasie het op Vrydag 17 Januarie 'n hupstoot by die Hessequa-kiesafdeling se tak van DAWN (Democratic Alliance Women's Network) met 'n skenking van omgeepakkies vir slagoffers van geweld gekry.
Die oorhandiging is deur Louise Mouton-Botha (veldwerker van die DA) behartig.
Volgens Anwyn Dreyer, een van die drie dames wat in die traumakamer diens doen, is dit ongelooflik om slagoffers se dankbaarheid vir iets so kleins soos 'n tandeborsel op die regte tyd te ervaar: "Vir 'n vrou wat weens gesinsgeweld uit haar huis gesluit is en nie by haar eie toiletware kan uitkom nie, is so 'n tasbare bewys van omgee 'n groot geskenk."
In sy bedanking vir die pakkies het stasiebevelvoerder kapt. Johan van Tonder verwys na die ketting van geweld in gemeenskappe wat gebreek moet word om verandering te weeg te bring.
Volgens rdl. Thinus van den Berg is die DA dankbaar vir alles wat die polisie saam met die Stilbaai-gemeenskap doen om slagoffers van geweld te bemagtig.
Enigiemand wat belangstel om as berader betrokke te raak kan sers. Christiana Lewaks by 028 754 6100 kontak. Die span bestaan op die oomblik slegs uit Anwyn Dreyer, Norma Hill en Anwyn Potgieter wat elkeen vir 'n maand op 'n slag 24 uur aan diens is.
• Riversdal-polisie se traumakamer het ook omgeepakkies op Donderdag 16 Januarie ontvang. Rdl. Margaret Jakobs het die oorhandiging aan konst. Venia Daries (mediaskakeling) gedoen.
Van links: Marius Ferndale, konst. Venia Daries, rdl. Margaret Jakobs, Johanna Michaels en Annemarie Joubert.
Agter, van links: Rdl. Thinus van den Berg, kapt. Johan van Tonder en sers. Christiana Lewaks. Voor: Norma Hill, Anwyn Potgieter, Anwyn Dreyer en Louise Mouton-Botha. Foto: Deona Aucamp
Lees 'n vorige artikel: Klein geskenkies maak 'n groot verskil
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'