Update
GOURITSMOND NUUS - Die Gouritsrivier-bewaringstrust en bekommerde inwoners van Gouritsmond het onlangs die belangrike taak van herwinning aangepak en begin met bewusmaking en praktiese ingrypings.
In die kusdorpie Gouritsmond is elke positiewe poging inderdaad 'n groot stap in die regte rigting, veral as mens praat van herwinning en die bewaring van die natuur.
Henque Waste is ingeroep vir ondersteuning en saam met Hessequa-munisipaliteit word daar nou gewerk aan werkbare en langtermyn oplossings.
Bitouville, net buite Gouritsmond, se kinders kom gewoonlik Donderdae bymekaar by die klein biblioteek vir leesaktiwiteite en om 'n liefde vir boeke by hulle te kweek. Een van hierdie geleenthede is onlangs gebruik om die kinders in te lig oor herwinning en wat die nagevolge van rommelstrooi is.
Elke kind is voorsien met 'n herwinningsak en instruksies oor wat in die sak mag en nie mag kom nie. Die uitdaging was om hulle sak binne 'n week te vul met platgetrapte plastiekbottels, papier, glasbottels en ander materiaal wat vir herwinning geskik is.
Die entoesiasme was oorweldigend en meeste sakke is binne 'n paar dae gevul. Hulle is beloon met 'n spesiale kaartjie wat hulle kon ruil by die plaaslike winkel vir 'n lekkerny van hul keuse.
Henque Waste moes 'n waentjie haak om al die sakke in te pas.
Hierdie bewusmakingsveldtog is verder uitgebrei na die res van Bitouville en Gouritsmond toe Henque Waste ’n vragmotor en sleepwa gestuur het om die reusehoop sakke te kom haal op Donderdag 26 April.
Gouritsmond hoop om eersdaags met ’n volhoubare en seepgladde herwinnings- en oplaaiprosedure te kan spog.
*Gouritsriver Conservation Trust and concerned members of the community had the initiative and vision of a recycling programme. Henque Waste, together with the municipality was asked to join, in order to make it workable and a long-term solution. Children from Bitouville come together at the small library each week where they learned about the importance of recycling and what impact littering has on the environment. They had a week to fill a bag with specific recyclable material. Each learner that could show a full bag, received a ticket which they could swop for a sweet treat of their choice at a local store.
Lees 'n vorige artikel: Almal staan saam vir herwinning
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'