Update
HEIDELBERG NUUS - Oudleerders van Kairos Senior Sekondêr, met Vennito van Niekerk, Juandré September en Thelma Meyer aan die spits, het besluit om geld vir die skool in te samel deur verskeie reünies van leerders wat sedert die skool sy deure op 18 April 1994 oopgestel het, te reël.
'n Massareünie word vir die naweek van 1 tot 3 Mei 2020 beplan.
Intussen het die groep alumni met mini-reünies op Vrydag 14 tot Sondag 16 Junie begin, wat ook 'n Mnr. en Mej. Heidelberg-modeskou ingesluit het.
Dié verrigtinge is in samewerking met die plaaslike rugbyklub wat die manlike 'modelle' verskaf het, aangebied. Die spelers en die vroulike deelnemers is of was almal leerders by Kairos. Die modeskou is met 'n dans afgesluit.
Die onderskeie wenners is I'oda Noudt, wat as Mej. Heidelberg gekroon is. Caitlyn Mduma is eerste prinses en Ruwayda Sithikhutezi die tweede prinses. Rudy October is Mnr. Heidelberg, met Simon du Toit die eerste prins en Nowaldo Vollenhoven tweede prins.
Al die deelnemers, maar veral die rugbyspelers, het die volgepakte Duivenhoks-gemeenskapsaal met hul elegante danspassies op die loopplank in vervoering gehad. Hulle het voorwaar gewys dat hulle nie net oor rugbytalent beskik nie. Die finaliste is staande toegejuig.
Die groep oudleerders van Kairos maak deel van die Alumni-projekspan uit wat leiding neem om volgende jaar se massareünie 'n sukses te maak.
Lees 'n vorige artikel hier: Kairos alumni hou modeskou
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'