Update
SWELLENDAM NUUS - Die twee mans wat verlede jaar twee bejaarde vroue op Jongensfontein onderskeidelik vermoor en vir dood agtergelaat het, is Dinsdag 10 September elk tot 55 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Regter Derick Wille het James Steyn (47) en Cornelius van Rooy (43) op 26 Junie vanjaar aan die moord op Gideona (Ona) Hugo (80) en poging tot moord op Hester de Wit (88) op 26 Januarie 2018 skuldig bevind.
Wille het sy skriftelike vonnisbevinding vir die hofrekord voorgelees.
Wat die twee vroue betref is die vonnisse soos volg: Albei mans word gevonnis tot 15 jaar vir huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede, 10 jaar vir poging tot moord en lewenslank (25 jaar) vir moord. Hierdie drie vonnisse sal gelyklopend uitgedien word. Met betrekking tot die vyf hawelose mans wat hulle op 25 Januarie op Stilbaai geterroriseer het, word hulle tot drie maal 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede gevonnis - hierdie drie vonnisse sal gelyklopend uitgedien word. In nog twee vonnisse wat verband hou met die haweloses, is hulle tot 10 jaar vir poging tot moord en vyf jaar vir aanranding met die opset om ernstig te beseer gevonnis. Hierdie twee vonnisse sal nie gelyklopend met die vorige vonnisse uitgedien word nie. Dit beteken dat hulle lewenslank plus 30 jaar sal uitdien, dus altesaam 55 jaar.
Volgens Wille het hy die mans se agtergrond, vorige oortredings (Steyn 19 en Van Rooy 23) en die feit dat hulle reeds 20 maande sedert hul arrestasie in aanhouding is, in gedagte gehou tydens vonnisoplegging. Hy het gesê hulle het berou getoon, maar dat hy nie werklik van die opregtheid daarvan oortuig is nie en dat hulle dit maar net gesê het om hul vonnis te versag.
Die weerloosheid van die twee vroue en die wreedheid van die aanval op hulle was verswarend. "Misdaad teen bejaarde vroue druis in teen die etos van hierdie land." Hy het gesê hulle het die misdaadtoneel by Hugo se huis op Jongensfontein verlaat wetende dat De Wit aan haar wonde kon sterf. Dit sou gebeur het as die bure nie onraad gemerk en gou opgetree het nie.
Familielede en vriende van Steyn, 'n boorling van Heidelberg, was in die hof teenwoordig. Na afloop van vonnisoplegging en na die regter die hofsaal verlaat het, het hy 'n jong seun se wang aangeraak, in sy oë gekyk en vir hom gesê: "Onthou, ek is lief vir jou." Hy het 'n vrou 'n drukkie gegee en vir haar gesê: "Pas jouself op."
Niemand was daar om Van Rooy te groet nie.
Lees vorige artikels hier:
- Moordenaars vir lank tronk toe gestuur
- 'Demoniese gees' het hom glo oorgeneem
- Jongensfontein: 2 skuldig aan moord
- Jongensfontein-moordverhoor gaan voort
- Bejaardes van Jongensfontein se geweldenaars verskyn in hof
- Jongensfontein moordverhoor op die rol
- Twee Maandag in hof: Jongensfontein moord
- Jongensfontein: 2 Vasgetrek vir moord
- Jongensfontein: Moordsaak uitgestel
- Opvolg: Jongensfontein-moord
- Jongensfontein: 2 Verdagtes gearresteer
- Jongensfontein: Vrou glo vermoor
'Ons bring jou die nuutste Swellendam, Hessequa nuus'