Update
HESSEQUA NUUS - Sestien maande na die wrede moord en aanranding van twee bejaarde vroue van Jongensfontein, het die verhoor van twee beskuldigdes Maandag 27 Mei in die rondgaande hooggeregshof hier begin.
James (Outa) Steyn (48) en Cornelius (Pa) van Rooyen (41) staan tereg op 10 aanklagte.
Die beskuldigdes het in die vroeë oggendure van 26 Januarie 2018 toegang tot die huis in Noorkapperlaan 1, Jongensfontein verkry deur 'n venster te breek.
Gideona (Ona) Hugo (80) is verwurg en Hester de Wit (88) is in 'n moordpoging met 'n stomp voorwerp geslaan.
Juweliersware, selfone, kameras en 'n klein kluis sonder sleutel is onder meer gesteel en hulle is met Hugo se Toyota Corolla vort. Hulle is twee ure later vasgetrek.
Die sewe ander aanklagte sluit in die aanranding met verswarende omstandighede en roof van kos en drank, asook twee pogings tot moord van ses hawelose persone op 25 Januarie.
Michael Bandiso en Gerhard Slawers het getuig hoe die beskuldigdes hulle deur die loop van die aand van 25 Januarie genader het, met 'n mes gesteek en van hul wyn en kos beroof is.
Bandiso was besig om onder 'n melkhoutboom kos te maak en wyn te drink toe hulle hom omstreeks 18:00 genader en met 'n mes gesteek het. Slawers het getuig dat hy en Louis Makoeba, Collin Februarie en Jason Jacobs omstreeks 20:00 onder die einste boom gesit en wyn drink het terwyl hulle kos oor 'n oop vuur maak toe die twee beskuldigdes hulle nader.
Hulle is een na die ander met die mes gesteek. Jacobs is ook aan die arms en bene opgetel en oor die vuur geswaai voor hy op die kole langs die vuur neergegooi is.
Die vier het op die vlug geslaan, maar is later, sonder Jacobs, na Stilbaai-polisiekantoor.
Terwyl hulle daar op 'n ambulans gewag het, het nog 'n slagoffer, Petrus Toppies, daar met steekwonde opgedaag wat na bewering deur die twee beskuldigdes toegedien is.
Slawers, Makoeba en Februarie is Saterdag 26 Januarie uit die hospitaal ontslaan, maar Toppies moes agterbly om 'n operasie aan 'n steekwond in sy skouer te ondergaan.
Steyn en Van Rooyen pleit onskuldig en ontken dat hulle ooit op die toneel was waar die slagoffers beweer hulle is aangerand en beroof. Hulle bly in aanhouding vir die duur van die verhoor wat na verwagting vyf weke sal aanhou.
Regter Derick Wille is op die bank, adv. Mornay Julius tree vir die direkteur van openbare vervolging op en adv. Les Wilkins, in opdrag van die Regshulpraad, vir die beskuldigdes. Mujahed Jantjies is die tolk.
Lees 'n vorige artikel hier: Jongensfontein moordverhoor op die rol
Die huis waar die moord gepleeg is.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'