RIVERSDAL NUUS - Niks wat hy in die hof gesê het, was waar nie en dit was 'n demoniese gees wat hom die gruweldade laat doen het.
So het James Steyn (47), wat saam met Cornelius van Rooy (43) op 26 Junie aan moord en poging tot moord op twee bejaarde dames van Jongensfontein skuldig bevind is, gesê na sy skuldigbevinding.
Regter Derick Wille het hulle skuldig bevind aan die moord op Gideona (Ona) Hugo (80) en poging tot moord van Hester de Wit (88) in Jongensfontein op 26 Januarie 2018. Hulle is ook skuldig bevind aan diefstal van Hugo se voertuig, inbraak en diefstal. Daarbenewens is hulle ook skuldig bevind op aanklagte van aanranding en roof van ses hawelose mans op Stilbaai op 25 Januarie.
Wille, wat sy bevindinge in meer as 70 bladsye saamgevat het, het gesê hy het die getuienis voor die hof deeglik oorweeg. "Die mosaïek van getuienis van die slagoffers kom daarop neer dat hulle die beskuldigdes wel geëien en selfs hul byname geken het." Verwarring kon dus nie oor die beskuldigdes se identiteit bestaan het nie, al het die twee volgehou hulle was nooit naby die slagoffers nie.
Wille het hul getuienis oor ene Whitey se betrokkenheid as verdigsel verwerp. Hy het gesê hulle het, namate die verhoor gevorder het, probeer om hul vingerafdrukke in die oorledene se huis weg te lieg. "Dit is vêrgesog, veral in die lig daarvan dat julle met die oorledene se voertuig en besittings in jul besit betrap is."
Adv. Mornay Julius, vir die staat, het Steyn se 19 en Van Rooy se 23 vorige oortredings uitgelees. Hulle het dit erken.
"Niks wat ek in die hof gesê het, is waar nie," het Steyn ter strafversagting getuig. Hy het erken dat Van Rooy hom vertel het van die twee weerlose, bejaarde vroue wat alleen in Jongensfontein woon. Hulle het die ongeveer 11 km daarheen te voet afgelê.
Op Julius se vraag wat tot Steyn se gruweldade gelei het, het hy gesê hy is nie deur Van Rooy beïnvloed nie. "Ek is self 'n groot man, ek het toegelaat dat daardie demoniese gees my menswees oorgeneem het sodat ek so opgetree het. Ek pleit nie om genade nie. Ek verdien om toegesluit en die sleutel weggegooi te word. Maar ek sal genade waardeer en vra die hof moet my leuens vergewe."
Julius was nie oortuig van sy berou nie. "Dit help nie om nou, na jy skuldig bevind is, die hof om vergifnis te vra met die oog op 'n ligter vonnis nie. Jy verdien lewenslange tronkstraf." Van Rooy het die hof, die oorledene se familie en die slagoffers vir die misdade wat hy gepleeg het om verskoning gevra. Op die vraag hoekom hy dit gedoen het, het hy geantwoord: "Kan wees omdat ek werkloos was."
Die twee word op 10 September gevonnis. "Vonnisoplegging is 'n baie belangrike aspek van die regsproses. Ek gaan nie oorhaastig wees nie, maar wil die saak baie goed deurdink."
Die twee bly in aanhouding.
Lees verwante artikels hier:
- Jongensfontein: 2 skuldig aan moord
- Jongensfontein-moordverhoor gaan voort
- Bejaardes van Jongensfontein se geweldenaars verskyn in hof
- Jongensfontein moordverhoor op die rol
- Twee Maandag in hof: Jongensfontein moord
- Jongensfontein: 2 Vasgetrek vir moord
- Jongensfontein: Moordsaak uitgestel
- Opvolg: Jongensfontein-moord
- Jongensfontein: 2 Verdagtes gearresteer
- Jongensfontein: Vrou glo vermoor
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'