Update
STILBAAI NUUS - Inwoners is bekommerd dat die tempo waarteen die kusdorp uitbrei sal veroorsaak dat die dorp nie genoeg water sal hê nie en ook sy karakter as rustige kusdorp sal verloor.
Die dorp het die afgelope paar jaar teen 'n opvallende pas gegroei. Terwyl talle dorpe in Suid-Afrika kwyn of min groei toon, raak Stilbaai net meer bedrywig. Dié tendens ontlok botsende emosies in die gemeenskap. Baie inwoners verwelkom die groei van die dorp omdat dit die lewensvatbaarheid van noodsaaklike besighede en aktiwiteite bevorder. Omdat so baie mense hier aftree, word die verbetering van mediese dienste verwelkom. Groei is 'n voorvereiste daarvoor.
Aan die ander kant is daar diegene wat glo dat die dorp in 'n Hermanus of Plettenbergbaai met al die gepaardgaande sosiale probleme kan ontaard.
Volgens Gustav Radloff, voorsitter van Stilbaai Belangeforum, is Stilbaai die sleutelgroeipunt in die jurisdiksiegebied van die Hessequa-munisipaliteit.
"Noodwendig verwelkom die munisipaliteit die huidige groeipatroon omdat dit die verstewiging van die raad se belastingsbasis verseker. Die ander dorpe in Hessequa beleef nie dieselfde groei nie en mens kan derhalwe nie die munisipaliteit blameer dat hulle die dorp se snelle groei aanmoedig nie."
Die beskikbaarheid van water is een van die bepalende faktore wat die groei van alle dorpe en stede in die Wes-Kaap in die onmiddellike toekoms sterk gaan beïnvloed.
"Almal is terdeë bewus daarvan dat die ongebreidelde uitbreiding van Kaapstad gelei het tot die ernstigste waterkrisis in ons land se geskiedenis, en die einde is nog lank nie in sig nie. Stilbaai is feitlik uitsluitlik van ondergrondse waterbronne afhanklik. Die dam by Melkhoutfontein is maar net die spreekwoordelike druppel in die emmer."
Droogte (sentreer)
Die streek ondervind reeds lank 'n droogtetoestand wat oor die laaste paar jaar vererger het.
"Die vraag wat noodwendig ontstaan is of ons nie besig is om die akwifers (waterdraende gesteentes) te oorbenut nie. Ons weet nie regtig wat die toestand is nie, want ons beskik nog nie oor die vermoë om dit akkuraat te moniteer nie."
Blykbaar is die gemeenskap meegedeel dat die oogmerk is om oor die medium- en langtermyn nog 2 500 wooneenhede in Stilbaai te bou en inwoners wil weet of die water dit gaan hou. Radloff sê die kwessie sal tydens Stilbaai Belangeforum se algemene jaarvergadering bespreek word om die bal aan die rol te sit om te verseker dat die regte besluite geneem word.
Niel van Wyk sal die bespreking inlui, waarna Johan Jacobs, munisipale bestuurder, en Harold Basson, hoof van tegniese dienste, die geleentheid sal hê om die raad se beleid te verduidelik en vrae te beantwoord.
Die vergadering vind op Vrydag 22 Februarie om 16:00 by Palinggat-oord se saal plaas. Almal is welkom.
Lees 'n vorige artikel hier: Stilbaai waterkwessie word bespreek
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'