Gallery Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Inwoners van Heidelberg en Slangrivier het die afgelope paar dae hul misnoë met die plaaslike polisie duidelik te kenne gegee deur verskeie aksies van stapel te stuur.
Die nuutste optrede spruit uit die dood van Henry (Pielie) October op Dinsdag, 29 September in die provinsiale hospitaal in George. Hy is na bewering deur twee polisielede aangerand en het ernstige inwendige beserings opgedoen.
Dit is nie die eerste keer dat die gemeenskap protesaksies teen die polisie loods nie.
Hulle wag steeds op antwoorde sedert hul laaste optrede vroeër die jaar toe 'n span van die onafhanklike klagte direktoraat (Opod), asook 'n hoë afvaardiging polisiebestuurslede, onder leiding van gen-maj André Lincoln, ingeroep is om vorige klagtes te ondersoek.
Fotogalery: Heidelberg protes oor polisielede
Dit sluit die dood van Nicolin Davids (26) in wat tydens die dorp se jaarlikse sportdag einde Oktober 2019 op 'n oop stuk veld net oorkant die rugbystadion gesterf het.
Daar word beweer dat 'n plaaslike polisiebeampte betrokke was toe Davids, 'n verpleegstudent, vermoedelik doodgery is.
Mense soek ook antwoorde oor Gerald Esau, wat na hy glo deur polisielede aangerand is, maande later in die hospitaal dood is, asook oor die dood van Loricha Jacobs in 'n voertuig wat deur 'n polisielid bestuur is.
Kyk 'n video hieronder:
Nagenoeg 150 ontstoke inwoners het Donderdagaand, 1 Oktober harde woorde laat val tydens 'n vergadering in die Duivenhoks-gemeenskapsaal. Die vergadering is deur James Gelderbloem, wyksraadslid fasiliteer om duidelikheid aan inwoners te verskaf aangaande die nuutste verwikkelinge met betrekking tot October se geval.
Volgens Gelderbloem het hulle (die taakspan) die dienste van 'n bekende gemeenskapsaktivis advokaat gratis bekom om October, sowel as Davids se families te verteenwoordig.
Verskeie inwoners het daarop aangedring dat die twee lede wat glo vir October aangerand het, summier geskors moet word. Hulle het ook die afdanking van die stasiebevelvoerder, lt-kol Sipho Dyani en kapt Mervyn Zana geëis.
'n Inwoner, Billy van Niekerk het gesê dat die polisie in sy kinderdae inwoners se vriend was.
"Dit is nie meer die geval nie. Niemand is meer veilig teen die polisie nie."
'n Emosionele Lizel Johannes het die aanwesiges gevra dat hulle moet saamstaan om geregtigheid te laat geskied.
Ongeveer 30 inwoners het Vrydagmiddag, 2 Oktober ten spyte van die gure weer by die polisiestasie saamgedrom waar hulle onder leiding van Rosaline Jansen, gemeenskapsaktivis, aangedring het om Dyani te spreek.
Ontstoke inwoners wat hulself vurig teen sekere polisielede uitgespreek het, sê hulle gaan nie die protesaksies stop alvorens van die lede ten minste geskors word nie. Hulle wou van Dyani weet hoekom hy nie die betrokke lede se skorsing aanbeveel nie, maar volgens hom is sulke besluite buite sy beheer.
Die aksie is weer Sondagmiddag 4 Oktober met 'n optog na die polisiestasie opgevolg deur nagenoeg 150 inwoners, waartydens hulle ook die dienskantoor beset het.
Eerw Chris Nissen, Wes-Kaapse menseregtekommissaris het Maandagoggend, 5 Oktober met Dyani en die plaaslike taakkomitee ontmoet. Hy het ook die protesgangers ingelig dat Opod Donderdag, 8 Oktober, self in Heidelberg sal wees om die gemeenskap toe te spreek en om die sake verder te ondersoek.
Eerw Chris Nissen spreek die ontstoke inwoners toe na hy met die plaaslike polisiebestuur en taakkomitee ontmoet het. Foto's: Clive Pretorius
Billy Van Niekerk: "die polisie is nie meer ons vriende nie."
Wyle Henry October
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'