Update
HEIDELBERG NUUS - 'n Twee-en-veertigjarige inwoner van Heidelberg, Henry October is Woensdagaand, 30 September in George-hospitaal oorlede nadat hy Vrydag, 25 September na bewering deur lede van die plaaslike polisie aangerand is.
October, wat onder inwoners meer bekend is as Pielie, het in 'n ernstige toestand verkeer na 'n noodoperasie Maandagaand.
Volgens October se susterskind, Grandal Oktober, was hy Vrydagmiddag in die dorp toe hy sien dat twee polisiemanne sy oom arresteer en hardhandig in die polisievangwa laai.
"Voor ek hulle kon nader, het hulle teen 'n hoë spoed weggery." Hy het bygevoeg dat dit nie ongewoon was dat sy oom in die selle oornag het nie.
October se ma, Maria Demas vertel dat hy Saterdagoggend ongeveer 08:00 met sopnat klere by die huis aangekom en erge pyn gehad het. Die vermoede bestaan dat hy flou geword en sy aanranders hom natgegooi het om hom by te kry.
Sy suster, Lisa Oktober vertel dat 'n noodoperasie aan sy dunderm gedoen moes word as gevolg van die beserings wat hy opgedoen het. Hulle is Dinsdagmiddag na die hospitaal, waar die dokter hulle ingelig het dat Pielie se toestand baie bedenklik is. "Hulle kon nie onmiddellik 'n opvolgoperasie doen nie omdat hy baie swak is," het sy bekommerd gesê.
Kapt Malcolm Pojie, polisie kommunikasiebeampte vir die Suid-Kaap het by navraag genoem dat geen klag van aanranding teen die polisie ingedien is nie.
Volgens hom het hulle hiervan bewus geword as gevolg van gerugte op sosiale media en in die gemeenskap. Hy het gesê dat October Vrydagmiddag in hegtenis geneem is op aanklagte van dronk in die openbaar en verset teen arrestasie. "Hy is opgesluit nadat hy aangekla is en is die volgende oggend om 06:30 op waarskuwing vrygelaat om Maandagoggend. 28 September in die hof te verskyn."
Pojie het bygevoeg dat daar deur die nag gereeld selbesoeke deur die lede aan diens gedoen is, onder leiding van die stasiebevelvoerder.
Hy vra dat enigiemand wat oor meer inligting beskik, die stasiebevelvoerder kontak (028 722 1910) sodat hulle die saak kan ondersoek.
Wyle Henry October se ID-foto.
Vorige artikel: Man sterf na beweerde aanranding deur polisie
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'