HESSEQUA NUUS - Om die begin van September as Toerismemaand te vier, spog die Wes-Kaap met die gesogte Safe Travels-stempel wat deur deur die World Travel and Tourism Council (WTTC) aan hul toegeken is.
Francine Higham, woordvoerder van die provinsiale minister van finansies en ekonomiese geleenthede, David Maynier het met die bekendstelling van die Wes-Kaapse binnelandse toerisme-veldtog, We Are Open namens Maynier met die toekenning gespog.
In die Hessequa-streek staan burgemeester Grant Riddles, munisipale bestuurder Johan Jacobs en hul spanne egter nie een tree terug om die Wes-Kaap en Hessequa-streek se toerisme weer op dreef te kry met die impak van die Covid-19 pandemie nie.
Didi Budricks, kommunikasiebeampte van Hessequa-munisipaliteit verduidelik dat die toerisme-afdeling reeds op 1 September met 'n virtuele toer van die streek begin het. "Die idee daaragter is om aan besoekers die geleentheid te bied om al die besienswaardighede te ontdek en sodoende te ervaar dat die dorpe meer as net 'n dagbesoek of oornag bestemming is," sê sy.
Die toer het in Heidelberg afgeskop waarna Witsand, Riversdal, Stilbaai, Albertinia en Gouritsmond 'besoek' sal word. Dit gee blootstelling aan elke deelnemende akkommodasie fasiliteit, restaurant en besienswaardighede - klein en groot.
Budricks sê die toerisme-afdeling het ook vier netwerksessies gereël wat tussen 21 en 28 September gaan plaasvind. "Hierdie sessies het ten doel om die verskeie rolspelers bymekaar te bring en elke dorp se unieke produkte te verken." Die sessies skop in Heidelberg af op 21 September, waarna Riversdal op 22 September, Stilbaai op 23 September en Gouritsmond op 28 September aan die beurt kom.
Gedurende die sessies sal toerismetendense, Hessequa se toerismestrategie en geleenthede waarby die onderskeie rolspelers kan baat vind, bespreek word. Die sessies is geskeduleer vir twee ure vanaf 15:00 tot 17:00.
Verwante artikel: Toerismemaand-vierige op dreef binne Hessequa
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'