Update
HEIDELBERG NUUS - Valentynsdag het nie onopgemerk by die dorp se senior burgerklub verbygegaan nie.
Avril Geldenhuys was Donderdagoggend 14 Februarie die gasspreker by 'n Valentynsdag-geleentheid wat deur die lede self gereël is.
Al die vroue en mans was in die gebruiklike rooi en wit drag uitgedos en die saal was eweneens feestelik in rooi en wit verfraai.
Met groot luister het sy die tragiese verhaal van St. Valentyn uit die geskiedenis gehaal en die dag pragtig in konteks geplaas.
Toe het sy oor die Eros-liefde uitgewei - die Bybelse liefde tussen verliefdes en die aanvaarding deur die gemeenskap van hierdie liefde as deur God goedgekeur.
Die vrou word die hekwagter en sien toe dat liefde seëvier. Sy het klem op die verse uit Efesiërs gelê: 'Wees uit eerbied aan mekaar onderdanig'; 'soek mekaar se beste belang' en 'moenie boekhou van die kwaad nie'.
Daarna het sy oor die belangrike Agape-liefde, die Kruis-liefde wat God vir die mens het met haar luisteraars gesels.
Dis die onvoorwaardelike liefde wat ouers vir hulle kinders het; wat families en hegte vriendskappe bind; dis die liefde van vermaning wat in elke huis behoort te oorheers om ons kinders deur die moeilike tye van vandag te dra.
"Ons kan ons kinders red deur hulle onvoorwaardelik lief te hê, met vermaning en tug. Ons kinders sukkel met armoede. Daar is huise waar ouers nie in beheer is nie. Sonder die leiding, tug en vermaning van liefdevolle ouers raak ons kinders so maklik verlore in die versoekings daar buite."
Aan die einde van die verrigtinge het alle lede van die klub die opdrag gekry om die volgende prakties te gaan uitleef by hul onderskeie huise: Gaan deel die liefde; laat die lig van liefde skyn; wees vriendelik met almal, en: 'Pas My skape op, en laat My lammers wei.'
Lees 'n vorige artikel hier: Heidelberg se oues hou Valentynsdag.
Johan Williams dra 'n liefdesgedig aan sy 'geliefde', Lisomien Hendricks op. Hulle is aan die biblioteek verbonde en het 'n bydrae tot die program gelewer. Foto: Alex Marshall, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'