Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Die koronavirus (Covid-19) was dalk 'n bedekte seën vir 'n groep hawelose mans wat in dié dorp op straat woon.
Vrydag, 'n dag na die algehele inperking om middernag op Donderdag 26 Maart in werking getree het, was nooddienspersoneel nog raadop met die groep wat nêrens het om die 21 dae van afsondering deur te bring nie.
Suid-Kaap Forum het hulle aangetref waar hulle verwese op 'n straathoek oor hul lot gesit en tob het.
Hulle is werkloos. Hulle slaap by die taxistaanplek of in 'n park. Maar hulle is bang, want van hulle is al aangeval - een is dood en nog twee het in die hospitaal beland. Die plaaslike polisie het die voorvalle bevestig en dit word ondersoek.
Hulle kan nie by familie bly nie, want daar is die huise klaar oorvol en die kos maar skraps. Wat hulle die meeste begeer is iets te ete waarvoor hulle nie in asblikke hoef te krap of voor te bedel nie. En 'n plek waar hulle onder 'n warm kombers kan slaap. In ander dorpe is shelters waar 'n mens R10 vir 'n bord kos en slaapplek betaal...
Kyk 'n video hieronder:
Hessequa-munisipaliteit het saam met 'n nie-regeringsorganisasie 'n plan gemaak. Volgens na wat verneem word is drie van hulle in die huis van 'n weldoener verwelkom, terwyl die res by familie op die dorp hervestig is. Waar die huise reeds vol is, word tente blykbaar in die erf vir hulle opgeslaan.
Die departement van maat-skaplike ontwikkeling het gesê hoewel hulle - net soos die munisipaliteit - nie direk vir die versorging van haweloses verantwoordelik is nie, hulle tog op versoek sal help om hulle te versorg.
Wie weet, dalk hou die virus tog vir dié haweloses 'n sekerder toekoms in.
'n Hawelose man op die bankie voor die NG Kerk Moedergemeente.
Vorige artikel: Haweloses kry blyplek
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'