Gallery Update
HEIDELBERG NUUS - Honderde roubeklaers het Saterdag 4 Mei van oral gekom om hul laaste eer aan een van die dorp se kleurvolste inwoners, Heleceen February, te betuig.
Die 27-jarige February, alombekend as 'Ceen', het Sondagaand 28 April gesterf toe die motor waarin sy 'n passasier was, gerol het. Sy was saam met haar vriend, Laurence Moolman, vanaf Hermanus op pad huis toe.
Die begrafnisdiens, in 'n stampvol St. Barnabas Anglikaanse Kerk, is Donderdagaand met 'n roudiens in dié kerk voorafgegaan.
St. Lukes Anglikaanse Kerk op Swellendam se mannegroep het tydens die roudiens hulde gebring met die lied Lord my Saviour and my Shepherd.
Onder die bekendes wat die verrigtinge eers by die huis en daarna in die kerk bygewoon het, was Rudy Paige, haar neef en Springbok-skrumskakel, Theodore Jantjies, oftewel Xander van 7 de Laan, asook Reginald Qere Witbooi, SABC-joernalis. Paige se pa, ds. Johannes Paige van Oudtshoorn, het die huisdiens en teraardebestelling waargeneem.
Eerw. Chassley Fredericks het die familie met Skriflesing uit 2 Timotheus 4:7-18 vertroos. Hy het ook na Ceen se goeie eienskappe verwys.
Jade Paige, Rudy se broer, en twee van sy groep sangers, asook Lauren Green, die kerkkoor en die Young Royal Shepherds Kersfeeskoor het liedere aan die ontslapene opgedra.
Huldeblyke is deur Luvina Damons, 'n niggie van February, asook haar oom, Thomas Meyers aan haar opgedra. 'n Hartseer Damons het Ceen as 'n beeldskone mens beskryf. "Sy het 'n besonderse manier gehad om veral teenoor kinders baie beleefd te wees. Sy het ook gou 'n geselskap oorgeneem met haar uitnemende persoonlikheid."
Meyers het gesê dat die goeie bywoning van die roubeklaers van haar vriendelikheid en goeie gesindheid getuig. "Haar filosofie sou veel meer as net een boek vol geskryf wees."
Damons het ter afsluiting van haar huldeblyk Heidelberg-rugbyklub se ondersteunerslied, Ek is 'n Heibi supporter, hei Mamma, gesing.
Later die middag op die rugbyveld is ook hulde aan haar gebring waartydens die eerste span wit en swart ballonne na 'n minuut van stilte vrygelaat het.
Gavin February, Heleceen se pa,haar ma se twee susters, Freda Hendricks en Heather Meyers langs hom, asook haar oupa, Jacob February, heel regs.
Reevan February, Heleceen se broer, in die middel saam met die Young Royal Shepherds Kersfeeskoor. Foto's: Clive Pretorius, korrespondent
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'